Hanru van der Merwe het op 11 maande sy eerste operasie ondergaan om sy gesplete lip en verhemelte reg te stel.
Hanru is op 32 weke met ’n noodkeisersnee gebore. Sy ouers, Angelique de Swardt en Ruan van der Merwe, het alle skanderings tydens die swangerskap laat doen en daar is nooit opgelet dat Hanru ’n gesplete verhemelte het nie.

Die eerste keer toe FiND iT met Hanru se ouers praat, was hy op ’n waglys by die staat se hospitaal. As gevolg van die Covid-19-pandemie het die operasies tot ’n stilstand gekom. In daardie stadium kon sy ouers net hoop en bid dat Hanru se beurt op ’n beter lewe sal kom.
Hanru se ouers het albei hulle werk tydens die pandemie verloor en het fondsinsamelings gehou om Hanru te help. Sy ouers het selfs ’n Facebook-blad, Help vir Hanru, begin.
Netcare Sunninghill-hospitaal in Sandton
“Hanru was op ’n waglys vir die operasie, maar Alet Cloete, ontvangsbestuurder van Netcare Sunninghill-hospitaal in Sandton, het die Facbook-blad gesien en Hanru se situasie onder die aandag van Pieter Louw, hospitaalbestuurder gebring,” sê Van der Merwe.
Van der Merwe sê Louw het hulle aangemoedig om by die Netcare-stigting aansoek te doen vir finansiering vir Hanru se behandeling. “Ons is dankbaar dat hy ons aangemoedig het, want Hanru het sy eerste operasie ontvang.”

Die Netcare-stigting het ingestem tot die operasie en dokter Christofides en sy span het Hanru op 16 Oktober opereer om sy lip en neus reg te stel. Dié operasie wat tussen R120 000 en R180 000 kos, het die ouers nie ’n sent uit die sak gejaag nie. Sy operasie was ’n groot sukses en hy herstel tans by die huis. “’n Gesplete lip kan dit moeilik vir Hanru maak wanneer hy ouer raak. Dit kan ook ’n kind se spraak beïnvloed,” sê Van der Merwe.
Volgens Van der Merwe was die eerste operasie slegs om die neusie en lip kosmeties reg te maak. Hy sê Hanru moet nog twee operasies ondergaan om die verhemelte te herstel.
Hanru is van geboorte af ’n vegter. “Selfs die eerste dag toe sy ouers die pleisters van Hanru se wond verwyder, het hy alreeds sy eerste glimlag gegee,” sê Hanru se ouers.
“Ons is baie geseënd!”
Volg FiND-iT hier.



