Ek streef daarna om vir my tweeling ’n goeie toekoms te gee

Deel hierdie storie / Share this story

Lizzy Barnard (37), ’n mamma van ’n pragtige 15 maande oue tweeling, het soos baie van ons nie dit verwag wat die lewe na haar kant toe sou gooi nie.

Haar babas, Mj en Marli, is agt weke te vroeg gebore. Mj is met baie slegte komplikasies, waarvan hulle aanvanklik nie geweet het nie, gebore. Hy is later met spina bifida sowel as hidrokefalie en Arnold Chiari-misvorming tipe 2 gediagnoseer.

Lizzy vertel hy het n baie rowwe ontmoeting met die lewe gehad. “Hy het al drie operasies ondergaan en sy hart het al drie keer gaan stilstaan.”

LEES OOK: Vermeulen-hofsaak gaan Dinsdag voort

Tragedie tref die gesin

Mj en Marli het in warm, liefdevolle omgewing grootgeword en hulle ouers het na hulle omgesien en die uitdagings hanteer soos dit gekom het, maar ongelukkig het ‘n groot tragedie die gesin op 3 November 2020 getref toe Lizzy haar man en die tweeling se pa aan die dood moes afstaan.

Alleen-mamma

Lizzy vertel sy was ‘n huisvrou vandat sy en haar man getrou het en moet ook nou voltyds na Mj omsien, aangesien hy vanaf sy heupe af ondertoe verlam is.

“Binnekort sal hy ‘n rolstoel en nog baie ander dinge benodig. Hy het ook gereelde mediese behoeftes soos fisio, arbeidsterapie en ondersoeke by ’n neurochirurg. Hy benodig ook my voltydse sorg en sal waarskynlik geen blaas- of dermbeheer hê nie. Moontlik sal hy ook binnekort geopereer word, afhangende van sy vordering.”

Streef na ’n goeie toekoms

Lizzy streef om vir haar kinders ’n goeie toekoms te gee, maar sukkel om haar kop bo water te hou en daagliks nuwe uitdagings die hoof te bied.

“Deur ’n fondsinsameling vir my babas te begin, het ek gehoop om aanvanklik geld te kry om te help met basiese dinge soos mediese behoeftes, kos, doeke, klere en huur.

“Ek kry wel staatshulp, maar dit is nie naastenby genoeg om te oorleef nie. Ek probeer wel om geld van die huis af te verdien, maar dit is nie genoeg om al die basiese behoeftes te dek nie. Ek sink net verder weg en kan nie my pad na bo vind nie.”

Indien daar enigiemand is wat vir Lizzy ’n bydrae wil maak, maak nie saak hoe groot of hoe klein nie, kan jy dit hier doen.