JOHANNESBURG.- Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het twee polisiebeamptes afgedank nadat hulle gejok het en gesê het hul wit kollega het die k-woord teenoor hulle gebruik.
Volgens IOl is WO Sedisa Tikoe (50) en Chris Mphana (46), wat in die Klerksdorp-polisiekantoor aan diens was, verlede week afgedank. Dit nadat die SAPD ‘n dissiplinêre verhoor teen hulle ingestel het. Die dissiplinêre verhoor het gevolg op ‘n verhoor waarin ‘n hof hulle skuldig bevind het. Hulle is skuldig bevind aan meineed, regsverydeling en crimen injuria in November verlede jaar. Hulle is boetes en opgeskorte tronkstraf opgelê.
“Vir die SAPD is die uitspraak ‘n stap in die regte rigting. Dit dui aan dat oortreders die gevolge van hul optrede moet dra. Die boodskap wat nou oorgedra word, is luid en duidelik: moenie vals beskuldigings van rassisme maak nie. Moenie vals beëdigde verklarings oor rassisme maak nie en jou tot geweld en dreigemente in die werkplek wend nie, ”het Solidariteit se Renate Barnard gesê.
Die twee polisiebeamptes wat afgedank is, het dit beplan
In 2017 het kol. Annemarie Oosthuizen ‘n displinêre proses aan die rol gesit nadat Tikoe en Mphana van die werk weggebly het sonder toestemming of om verlof in te sit. Elizabeth Sechele, ‘n voormalige werknemer, het egter gehoor hoe hulle beplan om Oosthuizen valslik te beskuldig dat sy die k-woord teenoor hulle gebruik het.
Die twee beamptes het Oosthuizen later daarvan beskuldig dat sy die k-woord gebruik het. Hulle het haar toe met geweld gedreig. Oosthuizen het ‘n saak teen die beamptes oopgemaak en Sechele het in die hof teen hulle getuig.
Hulle is R60 000 of drie jaar gevangenisstraf opgelê. Daarvan is R30 000 en 18 maande opgeskort.
Die staat het ook gevra dat albei ongeskik verklaar moet word om vuurwapens te besit.
Lees ook: Man tronk toe vir statutêre verkragting



