KIMBERLEY. – Die departement van gesondheid in die Noord-Kaap sê daar was ‘n noodplan in plek vir die week wat die water afgesny was.
FiND iT het gister berig Ivan Gerber (36) is in Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (bekend as Kimberley-hospitaal) oorlede nadat sy noodoperasie met drie dae uitgestel is weens ‘n watertekort.
LEES OOK:
Departement spreek meegevoel uit
Lebogan Majaha, woordvoerder vir die departement van gesondheid, sê: “As departement wil ons ons innige meegevoel aan die bedroefde familie oordra. Die departement ondersoek tans hierdie insident en sal verder met die gesin konsulteer.”
Departement sê noodplan was in plek
“Die gesondheidsfasiliteite in die provinsie het noodplanne in plek wat onmiddellik geïmplementeer word as daar waterafsluitings of beurtkrag is om die negatiewe impak daarvan op die lewering van gesondheidsorg uit te skakel.”
Noodoperasie uitgestel
Gerber moes op die 15de April ‘n noodoperasie ondergaan om sy buik skoon te maak nadat sy blindederm op die 14de April by die hospitaal verwyder is.
Die operasie moes vir drie dae uitgestel word omdat die hospitaal nie water gehad het nie. In daardie stadium het die hele stad van Kimberley nie water gehad nie nadat Sol Plaatje-munisipaliteit die watertoevoer op Sondag 11 April afgesny het.
Die operasie is uiteindelik op 18 April 2021 uitgevoer, maar Johan Gerber, Ivan se pa, is ingelig sy seun is baie siek as gevolg van infeksie en het ’n geperforeerde kolon gehad. Ivan is ses dae later in die hospitaal oorlede.


