Wil jy graag ophou rook, maar vind dit bietjie moeilik om ’n stokkie daarvoor te steek? Hier is ’n paar wenke om jou te help om van die gewoonte ontslae te raak.
LEES OOK: ‘Die Uber-bestuurder het aanhou bel tot ek geantwoord het’
Vind ’n rede
Dit is makliker om op te hou rook wanneer jy ’n baie goeie rede het. Jou rede kan enigiets wees van langer te wil leef vir jou gesin of net omdat jy ’n gesonder leefstyl wil begin.
Jou rede hoef nie vir ander mense sin te maak nie, solank dit jou net gemotiveerd hou.
Vra ondersteuning van vriende en familie:
Vertel vir jou naaste familie en vriende van jou planne om op te hou rook. Vra hulle om jou te ondersteun. Dit is makliker om op te hou as jy mense het wat jou positief aanmoedig, veral wanneer jy in die versoeking is.
Drink baie water
Baie rokers wat probeer ophou, weet nie wat om met hulle hande te doen nie. Deur water te drink, hou jy jouself besig en sommer jou hande ook.
Water help ook vir diegene wat in die eerste paar weke hoofpyn as gevolg van onttrekking kry. As jy baie water drink, kan dit ook help om die nikotien vinniger uit jou lyf te verwyder.
Oefen
Oefening kan nikotienonttrekkingsimptome verminder. Studies het getoon selfs ’n kort periode van 10 minute matige oefening onmiddellike gevolge kan hê in die vermindering van nikotienonttrekkingsimptome.
Probeer mediteer of asemhalingstegnieke
Een rede waarom mense rook, is omdat die nikotien in sigarette hulle help ontspan. Sodra jy ophou, het jy nuwe maniere nodig om te ontspan. Meditasie of asemhalingstegnieke is ’n goeie manier om jou te help ontspan en jou gedagtes van rook af te trek.
Vermy alkohol en koffie vir eers
Wanneer mens alkohol drink, is dit moeiliker om by jou doelwit te hou. Probeer dus alkohol beperk of vermy wanneer jy wil ophou rook. Net so, as jy gereeld rook wanneer jy koffie drink, skakel eerder vir ’n paar weke oor na tee.
Maak jou huis skoon
Raak ontslae van alle asbakke, aanstekers en sigarette. Probeer ook alles wat na rook ruik te was. Gebruik lugverfrissers om van daardie bekende reuk ontslae te raak. As jy in jou motor gerook het, maak dit ook skoon. Jy moet niks sien of ruik wat jou aan rook herinner nie.
Probeer hipnose
Baie mense het suksesvol opgehou rook deur hipnose. Indien jy voel jy het ’n ekstra hupstoot nodig om die gewoonte finaal te los, is hipnose ’n goeie keuse.



