Ouma 80, maar jonk van gees

Deel hierdie storie / Share this story

Johanna Jurina Pretorius (Joey) het hierdie week haar 80ste verjaarsdag gevier. Volgens haar geliefdes is sy ’n merkwaardige beeld van God se liefde.

Hier vertel sy vir FiND iT bietjie van die vol lewe wat sy tot dusver gehad het.

Joey se kleindogter, Shana-Leë Stoltz, sê sy bewonder haar ouma omdat haar liefde en omgee oneindig is. “Sy bly altyd kalm in enige situasie en sy is altyd vriendelik ongeag of mense dit verdien of nie.”

LEES OOK: Vrou al ses dae vermis na sy glo uber neem

Ses jaar lank weduwee

Joey was vir 54 jaar met haar oorlede man, Louw Pretorius, getroud. Sy is nou vir ses jaar lank ’n weduwee. Sy het vier kinders, nege kleinkinders en sewe agterkleinkinders.

Joey het vir 28 jaar by Perm-bank. wat saamgesmelt het en vandag as Nedbank bekend staan, gewerk Sy was supervisor van verskeie departemente asook subtakke.

Beste herinnering

“As ek terugkyk na my lewe, dan is my beste herinnering toe ek en my man in ons eerste ou huisie in Johannesburg ingetrek het. Dit was vir my vreeslik opwindend om ons eerste meubels te koop en vir die eerste keer in my eie huis te kook en te bak.”

Moeilike tye

“My man, wat as verkeersbeampte gewerk het, was in twee motorfietsongelukke betrokke en is daarna ongeskik verklaar. Hy was maar net 36 jaar oud en ek moes intree as die broodwinner vir die gesin.”

Joey het ook haar dogter, Shana se ma, aan kanker afgestaan.

“Mens moet maar net aangaan. Sulke goed gebeur met baie mense en kan met enigiemand gebeur. Dit is moeilik om te verwerk en mens se gedagtes hol rond, maar God staan mens by en maak jou sterk deur Sy genade.”

Geniet hekel en brei

Joey vertel sy is baie lief vir brei en hekel. Sy sal saans sit en brei, veral in die winter.

“Ek en my man het ’n baie groot kwekery gehad en ek het hom vir baie jare daarmee gehelp. Dit het my liefde vir plante laat blom. Ek het dit vreeslik geniet.”

Joey en haar man se kwekery het bekend gestaan as die beste kwekery in Suid-Afrika. Hulle het ook gereeld sade en plante na die buiteland uitgevoer.

Raad vir jonger geslag

“Wees hardwerkend, geduldig, sagmoedig en liefdevol teenoor ander mense. Ek sê altyd vir meisies wat seergekry het, onthou jy is die belangrikste mens in jou lewe. Moenie laat ander mense jou aftrek nie. Jy is na God se beeld gemaak.”

“Mans, wees meer geduldig en liefdevol teenoor julle vroue. Respekteer mekaar in alles. Glo mekaar en help mekaar.”

LEES OOK: Ma hang glo baba oor stoel om drankie te geniet