Help, my krimpvarkie hiberneer!

‘n Krimpvarkie se lyf moet altyd warm wees. Die oomblik wat die lyf koud is, moet jy weet iets is fout.

Krimpvarkie-eienaars moet bewus wees hibernasie kan baie gevaarlik vir 'n mak krimpvarkie wees.

Krimpvarkie-eienaars moet bewus wees hibernasie kan baie gevaarlik vir 'n mak krimpvarkie wees. (Foto: Meryke)

Wanneer krimpvarkies lae temperatuur in hulle hok ervaar, sal hulle begin hiberneer. Baie mense dink dit is nie ongewoon vir ‘n krimpvarkie om te hiberneer nie. Hulle doen dit mos gereeld in die natuur. Dit is egter ‘n natuurlike reaksie teenoor koue temperature. Krimpvarkie-eienaars moet bewus wees hibernasie kan baie gevaarlik vir ‘n mak krimpvarkie wees. Dit bedreig hul gesondheid en kan selfs dood veroorsaak.

Volgens Hedhehogworld is dit baie gevaarlik vir ‘n mak krimpvarkie om te hiberneer.

Hoekom is dit gevaarlik?

In die natuur bou krimpvarkies vet op wat hulle help om liggamshitte te isoleer. Die krimpvarkie se liggaam verbrand ook sy vet om die liggaam tydens hibernasie te onderhou. ‘n Mak krimpvarkie het egter nie daardie vet nie. Die kos wat deur mense voorsien word, bou nie hierdie vet op nie. Daarom is dit belangrik om te verseker jou krimpvarkie se hok is die regte temperatuur. Die diertjie is baie sensitief vir verandering in temperatuur.

Wanneer jou krimpvarkie hiberneer, hou hy op met eet. As jy hom lank genoeg so los, sal hy uiteindelik van die honger sterf. Dit verswak ook sy immunstelsel. Al kry jy hom uit sy hibernasie, kan dit steeds ‘n groot impak op sy lewensduur hê.

Lees ook: Wenke om die regte kussing vir ‘n goeie nagrus te kies

Tekens en simptome van hibernasie

Let op na jou krimpvarkie se liggaamstemperatuur. ‘n Krimpvarkie se lyf moet altyd warm wees. Die oomblik wat die lyf koud is, moet jy weet iets is fout. Die krimpvarkie sal geen belangstelling in kos of water toon nie. Gewoonlik sal hy homself oprol en weier om oop te maak. Nog ‘n teken is dat hy snaaks sal beweeg as jy hom kan kry om enigsins te beweeg. Hy sal wankelrig en stadig loop.

Hoe help ek ‘n hibernerende krimpvarkie?

Verhoog jou krimpvarkie se temperatuur stelselmatig. Moenie dit te vinnig doen nie, want dit kan ook skadelik wees. Die beste manier is om die krimpvarkie met jou eie liggaamshitte te verwarm. Sit hom onder jou hemp, teen jou vel. Jy kan ook ‘n handdoek in die tuimeldroër gooi om dit te verhit en dan jou krimpvarkie in die warm handdoek toedraai.

Vra ‘n veearts se raad en hou jou krimpvarkie dop om te verseker hy het nie ernstige skade opgedoen nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: