‘Vier kinders & ‘n bus’

Van Niekerk sê hulle sal beslis langtermyn in die bus bly.

'Vier kinders & 'n bus' (Foto: Facebook)

'Vier kinders & 'n bus' (Foto: Facebook)

Sonja van Niekerk (35) gesels met FiND iT vanuit ‘n besige bus vol kinderstemmetjies wat sy en haar man, Rheinholdt van In (38) in ‘n huis omskep het en nou gebruik om die land plat te ry.

“Ek en my man was nog altyd baie lief daarvoor om te toer. Toe ons kinders gekry het, was ons onseker oor of ons ooit weer die geleentheid sal hê om te kan toer.”

Die idee op Netflix gekry

Van Niekerk vertel hoe sy op kraamverlof gereeld Netflix gekyk het en toe toevallig op ‘n verhaal van ‘n gesin wat in ‘n bus bly, afgekom het. “Ek het dadelik geweet dis wat ons moet doen. Ek het met my man daaroor gepraat en hy het gesê as ek ‘n bus in die hande kan kry, kan ons dit doen. Ek het daardie selfde dag nog ‘n bus gekry,” lag sy.

Van Niekerk sê die Covid-19-pandemie wat vir drie maande se isolasie gesorg het, het hulle eintlik gepas. Hulle het die drie maande gebruik om op die bus te fokus en dit in te rig vir hulself en Katie (7), Kaden (5) en die tweeling, Kayla en Karlien (2).

13 maande geneem

Dit het hulle ongeveer 13 maande geneem om die bus in te rig. “Ons woon nou al nege maande in die bus,” vertel Van Niekerk. “Alhoewel dit ons aanvanklik ‘n rukkie geneem het om in te settle en gewoond te raak aan alles, is ons nou nog nie ‘n dag spyt oor ons besluit nie. Vir daardie hele eerste maand moes ons net besef: Ons bly in ‘n bús!”

Was beide onderwysers

Van Niekerk en Van In was beide onderwysers by ‘n skool op Alberton voor hulle besluit het om in die bus te woon. Hulle het ‘n huis op Alberton wat hulle tans uitverhuur en op dié manier help om ‘n inkomste te genereer. Van Niekerk bestuur steeds haar eie kleuterskool en sê sy kan gelukkig alles aanlyn aankoop en só bestuur. Sy hou ook knoop-en-doop-partytjies.

Die gesin van ses was in die afgelope nege maande al in Ventersdorp, Groot Mariko, Leeudoringstad, Hoopstad en Kimberley. “Ons bly gewoonlik nie korter as ‘n maand op een plek nie. Ons wil die kinders kans gee om net ‘n bietjie te settle voor ons weer na die volgende plek toe beweeg. En ook omdat diesel so verskriklik duur is.”

Wat doen hulle deur die dag?

Van Niekerk sê ‘n vraag wat hulle baie kry, is wat hulle daagliks doen. “Ag, elkeen slaap maar tot hy of sy wakker word en dan eet ons almal saam as gesin ontbyt. Daarna begin ons maar met skoolwerk of speletjies tot middagete. Ná middagete gaan explore ons gewoonlik!”

Hulle het aanvanklik op karavaanstaanplekke gestop en daar gewoon, maar het op ‘n Facebook-groepie gevra en baie mense het gesê dat die gesin op hulle plase kan kom woon.

“Soos wat almal aangebied het dat ons op hulle plase kan kom woon, het ons maar so kolletjies op die padkaart gemaak en so is ‘n pad vir ons uitgelê.”

Voel nog altyd veilig

Van Niekerk lag en sê hulle is dankbaar vir die “goeie karma” wat hulle het dat hulle nog nie beroof is nie en nog altyd veilig voel waar hulle gaan.

Oor wat die toekoms vir hulle inhou, sê Van Niekerk hulle sal beslis langtermyn in die bus bly. “Ons groot planne vorentoe is om Europa te gaan vol toer, maar vir eers mik ons vir die see.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: