FRANKRYK. – ‘n Onderwyser wat van kop tot tone met tatoeëermerke bedek is, het onlangs sy werk by ’n kleuterskool verloor omdat hy een van die kinders ‘bang gemaak’ het.
Sylvain Helaine (35), wat vir kinders van ses jaar en ouer skoolgee, se gesig, liggaam, tong en selfs sy oë is getatoeëer.
Na sy leerlinge hom vir die eerste keer gesien het en oor die ergste skok gekom het, sien hulle volgens dié onderwyser nie meer sy voorkoms raak nie.
Helaine, wat ’n geskatte totaal van 460 ure onder die naald deurgebring het, sê as sy leerlinge en hulle ouers hom eers leer ken, hulle baie gemaklik in sy teenwoordigheid raak.

Helaine het verlede jaar by die Docteur Morere-kleuterskool klasgegee toe ’n driejarige se ouers by die skool gekla het dat hy hulle kind, wat nie by hom klas gehad het nie, nagmerries gee. Die skool het hom ’n paar maande later ingelig dat hy nie meer by die kleuterskool sal kan klas gee nie.
Die skool het toe ‘n ooreenkoms met Helaine aangegaan en hulle het besluit hy sal nie meer vir kinders onder ses klas gee nie.
Helaine het op die ouderdom van 27 tatoes begin kry en dit het intussen vir hom ’n passie geraak. “Ek sal ’n laerskoolonderwyser bly,” sê hy. “Ek is mal oor my werk. Ek hoop om my leerlinge te laat besluit om mense te aanvaar vir wie en wat hulle is. Hopelik sal hulle dan later in hulle lewens minder rassisties en homofobies en meer oopkop wees.”

Vertel vir ons jou storie!
Het jy ‘n storie wat iets vir ander lesers sal beteken? Het jy iets ervaar wat jy wil hê die wêreld moet weet? Weet jy van iemand wat iets wonderliks bereik het of selfs deur iets verskrikliks gegaan het?
Stuur ‘n e-pos na [email protected] en dalk skryf ons oor jou!



