OOS-KAAP. – Dube Mhlanga (22) en Sibongiseni Simon Mdingi (38) het op 21 April 2021 in die Mthatha-streekhof verskyn waar hulle albei tot tien jaar gevangenisstraf weens ontvoering gevonnis is.
Kapt. Yolisa Mgolodela, polisiewoordvoerder, sê ’n sakeman, Vuyolwethu Fadana (27), van Corhana Village in Libode is op 13 Junie 2019 om 11:00 ontvoer toe hy van sy familiebesigheid, die Madeira Mall in Libode, af gekom het.
LEES OOK: 24 Jaar vir kleinseun wat ouma en oom vermoor
Met stomp voorwerp geslaan
“Fadana was in sy oprit en het ’n tak verwyder wat die ingang versper het toe hy met ’n stomp voorwerp op die agterkant van sy kop geslaan is en sy bewussyn verloor het.”
Toe hy weer by sy bewussyn kom, het hy ontdek hy word in sy voertuig deur drie gewapende mans, wat beloof het om hom nie skade aan te doen as hy hul instruksies nakom nie, aangehou. ’n Losprys van R1 miljoen is van sy familie geëis. Die polisie is in kennis gestel.
Gered
Fadana is vyf dae na die ontvoering gered en Mhlanga en Mdingi is in hegtenis geneem.
Tydens die reddingspoging het ’n skietgeveg plaasgevind en die derde ontvoerder, Michael Wopela (39), is noodlottig gewond. Die twee verdagtes is gedurende die verhoor in aanhouding gehou en het verskeie hofverskynings in die Mthatha-streekhof gemaak totdat hulle skuldig bevind en gevonnis is.
LEES OOK: Google-wenke vir die dag



