DA doen beroep op onderwysdept. om Hoërskool Homevale te laat slaag

“Dit is tyd dat die LUR sy pligte teenoor hierdie skool moet begin nakom.”

DA doen beroep op onderwysdept. om Hoërskool Homevale te laat slaag (Foto: Kimberley City Portal)

DA doen beroep op onderwysdept. om Hoërskool Homevale te laat slaag (Foto: Kimberley City Portal)

KIMBERLEY. – Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap herhaal hul vorige versoeke vir ingryping deur die LUR vir onderwys, Zonakile Monakali, by Hoërskool Homevale in Kimberley.

Oplossings benodig

“Gesprekke met die skoolgemeenskap en ons onlangse oorsigpogings beklemtoon dat oplossings vir personeeltekorte, geldprobleme, en onvoldoende infrastruktuur benodig word,” sê Delmaine Christians, DA-lid van die NRVP se onderwyskomitee. “Oplossings is reeds aan die departement voorgelê, wat hulself egter blindstaar teen probleme.”

LUR skriftelik versoek

“Ek het die LUR vir onderwys skriftelik versoek dat dissiplinêre prosesse teen die skoolhoof, wat sedert 2019 met sy volle salaris geskors is, dringend afgehandel moet word. Ons provinsiale woordvoerder vir onderwys, Priscilla Isaacs, het die departement reeds in Maart oor hul planne vir hierdie pos uitgevra. Daar is tot op hede egter geen antwoord van die departement nie. Die skynbare huiwering om die kwessie af te handel, is kommerwekkend.”

Departement aangepor

Christians sê die DA kan doodeenvoudig nie onderwys van ‘n goeie gehalte sonder onderwysers van goeie gehalte verseker nie. “Ek het die departement aangepor om vakante onderwysposte vir sleutelvakke soos Afrikaans, aardrykskunde, geskiedenis, en toerisme voor die aanvang van die volgende kwartaal te vul. Die skool het onderwysers nodig om die agteruitgang in matriekuitslae te keer.”

Leerlinge kan nie op leë mae presteer

Verder sê Christians die DA kan ook nie verwag dat leerlinge op leë mae hul beste kan lewer nie, so die skoolvoedingskema moet weer ingestel word. “Hierdie belangrike skema is een van vele slagoffers van finansiële wanbestuur. Dít het ook gelei tot kragonderbrekings weens die wanbetaling van Eskom-rekeninge.”

Wangedrag deur amptenare

Verder versoek die DA dat die departement ondersoek na beweringe van wangedrag deur amptenare instel, wat die finansiële verknorsing van die skool glo vererger. “Dit sluit die omstrede betaling van R20 000 as salarisse aan onbekende persone in. Die departement moet ook sy eie diskresionêre fondse aanwend om die skool uit hierdie verknorsing, wat deur amptenary se wangedrag veroorsaak word, te help. Dit is onredelik om te verwag dat die skool nou moet pa staan vir die foute en wanbestuur van die departement se amptenare. Dit is tyd dat die LUR sy pligte teenoor hierdie skool moet begin nakom.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *