Kleinseun in hof na hy glo ouma verkrag

Deel hierdie storie / Share this story

THABONG – ‘n Kleinseun (37) sal binnekort in die hof verskyn omdat hy na bewering sy 79-jarige ouma verkrag het.

Die slagoffer beweer dat sy ‘n maand alleen in haar huis in Thabong gebly het, sonder om te weet waar haar kleinseun wat by haar tuisgegaan het, homself bevind het.

Op Sondag 11 April 2021, omstreeks 02:30, het hy by die huis aangekom en haar glo verkrag. Hy het haar na bewering gedreig en gesê hy gaan haar doodmaak as sy vir iemand van die voorval vertel.

Kleinseun in aanhouding

As gevolg van beserings wat tydens die voorval opgedoen is, is die bejaarde vrou in die Bongani-hospitaal opgeneem.

Die verdagte word tans aangehou en sal op aanklag van verkragting in die hof verskyn.

Die waarnemende provinsiale kommissaris van die polisie in die Vrystaat, genl.-maj. Solly Lesia, doen ‘n beroep op die gemeenskap om na bejaardes in hul gemeenskap om te sien. “Dit is skokkend om te hoor van hierdie daad deur iemand na aan die slagoffer. Die inhegtenisneming van die oortreder sal verseker dat hy sy dag in die hof het,” het Lesia gesê.

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.