KIMBERLEY. – Ses verdagtes tussen die ouderdomme van 33 en 51 is op Kuruman en Kimberley is vir bedrog en geldwassery in hegtenis geneem.
Die verdagtes wat in hegtenis geneem is, is Impoletseng Beauty Kilelo (40), Paul Mission Mokoena (50), Oratile Yvonne Schoeman (32), Togara Charles Ndebele (51), Tjetjepa Motaung (46), en Jacqueline Tshilo (44).
Nomthandazo Mnisi, polisiewoordvoerder, sê daar is na bewering tussen 2011 en 2016 vals werkers in die Sol Plaatje-munisipaliteit se databasis geskep. “Verskeie bankrekeninge is gebruik om ongeveer R1,6 miljoen vanuit Sol Plaatje se bankrekening te betaal.”
Al ses verdagtes word by die Kimberley-polisieselle aangehou en verskyn Donderdag 25 Maart vir die eerste keer in die hof.
Meer inhegtenisnames word verwag.



