September 24, 2021

Die lewe in ’n ‘van’

Foto: Verskaf

Katherine Kennedy (25), oorspronklik van Jupiter in Amerika, en Dalton Frankton (26), oorspronklik van Baltimore in Amerika, het in Mei 2019 besluit dat hulle nie net in ’n van wil reis nie, maar sommer permanent in een wil bly.

Hoe stort hulle? Wat eet hulle? Word hulle ooit verveeld? Is dit veilig? Kennedy gesels ’n bietjie met FiND iT oor hulle lewe en antwoord ’n paar van die algemeenste vrae!

Kennedy en Frankton is vir twee en ’n half jaar al in ’n verhouding. Die paartjie, wat in Augustus hulle reis langs die ooskus van Amerika aangedurf het, is altwee kunstenaars en wou ’n lewe vir hulself skep waar werk, reis en kuns deel van hulle alledaagse lewe kan wees. “Die van maak dit vir ons moontlik om dit uit te leef en te werk, maklik rond te beweeg én terselfdertyd nie ‘n plaas se prys daarvoor hoef te betaal nie!”

Alhoewel dié tweetjies sedert Augustus 2019 al permanent op die pad is, word hulle pos en dokumente na Frankton se ouers se huis in Suid-Florida gestuur.

Oor of die twee ‘n gesin wil begin, vertel Kennedy: “Ons praat gereeld daaroor en ons sal beslis eendag ‘n gesin wil begin. Dis só inspirerend om ander gesinne langs die pad te ontmoet en te sien hoe hulle deur die wêreld reis. Dis vir ons altwee ‘n groot droom om met ons gesin die wêreld vol te kan reis terwyl ons nog jonk is. Wanneer die tyd reg is, sal ons dit hanteer.”

Kennedy sê sy en Frankton het lank voor hulle reis begin het, al geld daarvoor begin wegbêre. Frankton is ‘n metaalvervaardiger en Kennedy het in ‘n kindermuseum gewerk. “Ons doen maar so langs die pad vryskutwerk, neem foto’s en doen digitale ontwerpe vir ons kliënte. Frankton sal hopelik hierdie komende jaar virtueel verder studeer,” sê Kennedy. “Ons is baie opgewonde oor die jaar wat voorlê!”

Hier is ‘n video van hoe Kennedy en Frankton se van van binne lyk.

“Ons kry nogal heel gereeld vrae oor wat ons eet en hoe ons kosmaak. Mens dink dat ons eintlik meer van blikkieskos sal leef, maar ons eet eintlik maar dieselfde as wat ons sou as ons in ‘n huis gewoon het,” vertel Kennedy. “Al wat regtig anders is, is dat ons vooruit moet beplan wat ons gaan eet. Ons grootste uitdaging is die min spasie wat ons het om ons kos te bêre, daarom is dit so belangrik om vooruit te beplan.”

Oor hoe hulle die badkamer gebruik wanneer dit nodig is, sê Kennedy: “Ons gebruik meestal maar openbare toilette. Wanneer ons in die bos uitkamp, maak ons van die ‘leave no trace‘-konsep gebruik. Ons het wel ‘n noodtoilet in die van vir wanneer een van ons deur die nag ‘n nood het en ons nie by die van kan uit nie.”

“Ons maak van openbare storte ook gebruik wanneer ons wil stort. Soms betaal ons vir die gebruik van stortgeriewe by gimnasiums of kampgronde, maar as ons by enige vars water kom, gebruik ons die geleentheid om skoon te kom.”

Kennedy sê een van die dinge wat hulle die meeste gemotiveer het om eerder in ‘n van te bly, is die huur wat hulle maandeliks moes betaal om in ‘n huis te bly, en dit boonop sonder om iets te besit. “Ons spaar beslis ‘n klomp geld deur in die van te bly!”

Op ‘n tipiese dag sal die twee wanneer hulle wakker word, ontbyt maak om die dag mee te begin. “Ons probeer gewoonlik of om te stap, foto’s te neem of net te ontdek. Ons sit gewoonlik in ‘n koffiewinkel of sommer aanlyn en bespreek en beplan wat ons in ‘n spesifieke gebied wil doen.” Wanneer hulle beplan om te gaan stap, pak hulle gewoonlik middagete in. “As ons naby genoeg aan die van is, kom ons sommer hier middagete eet.”

“Verder soek ons gewoonlik na ‘n mooi sonsondergang en dan begin ons kosmaak, óf buite op ‘n vuur óf in ons klein kombuisie. Ons raak dan rustig en maak reg om te gaan slaap, net om die volgende oggend op te staan en dit weer van voor af te doen!”

Die paartjie antwoord vrae en plaas gereeld foto’s en video’s van hulle reis en hulle van op sosiale media. Volg hulle op Instagram, TikTok of gaan loer in op hulle webtuiste, Our Home On The Move.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *