April 18, 2021

‘Provinsiale departement te blameer vir die agteruitgang van kunstenaars’

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap sal die afskuwelike behandeling van kunstenaars deur die provinsiale departement van sport, kuns en kultuur na die Nasionale Minister, Nathi Mthethwa, verwys vir dringende ingryping.

Provinsiale departement te blameer vir die agteruitgang van kunstenaars

Provinsiale departement te blameer vir die agteruitgang van kunstenaars photo credit: canva

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap sal die afskuwelike behandeling van kunstenaars deur die provinsiale departement van sport, kuns en kultuur na die Nasionale Minister, Nathi Mthethwa, verwys vir dringende ingryping.

Dit is volgens Ofentse Mokae LPW, DA Noord-Kaapse provinsiale woordvoerder van sport, kuns en kultuur.

“Dit kom nadat kunstenaars die afgelope paar dae ‘n hongerstaking in die kantoor van LUR Desiree Fienies gevoer het om antwoorde te kry ten opsigte van vermiste miljoene wat aan die kunssektor toegeken moes word.”

“Hoe is ons kunstenaars, wat afhanklik is van die befondsing van hierdie departement, veronderstel om te oorleef en kos op hul tafels te sit, as staatsfondse aanhou verdwyn sonder enige geldige verduideliking?”

“Hierdie departement is bekend vir sy roekelose bestuur van staatsfondse en sy versuim om te verseker dat daar gevolge is vir oortreders wat geld, wat aan begunstigdes toegewys is, steel.”

“Die departement het vroeër ‘n bedrag van R4 miljoen ontvang vir die implementering van ‘n Noord-Kaapse program vir kunstenaarshulp wat deurspek was met teenstrydighede”

“Ons doen ‘n ernstige beroep op die departement om te keer dat soortgelyke onreëlmatighede in die tweede fase van die implementering van die addisionele noodlenigingsfinansiering van R2,1 miljoen, plaasvind. Die addisionele befondsing is in Februarie deur die premier, dr. Zamani Saul, in sy openingsrede bekend gemaak.”

“Ons kan nie toelaat dat hierdie sektor nog langer onregverdig behandel word nie. Staatsfondse is nie die persoonlike kleinkasregister van amptenare nie. Daar moet verantwoording wees vir alle staatsfondse.”

“Gegewe die mislukking van die provinsiale departement om hierdie saak effektief te hanteer, moet minister Mthethwa dringend sy greep op hierdie departement verskerp en aanspreeklikheid afdwing om te verseker dat die kreatiewe sektor, wat grootliks bydra tot ons reeds bedreigde toerismesektor, nie uitsterf nie.”

*Persverklaring

Lees ook Argeoloë vind 60 stukkies Bybelse teks, babamandjie en kind se geraamte

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: