April 18, 2021

Kuberafknouery: selfskending, anoreksie en seksuele probleme

“Wanneer sy nie wou doen wat die ander kinders wou hê nie, het hulle haar uitgeskuif en geboelie.”

Kuberafknouery: selfskending, anoreksie en seksualiteitsprobleme

Kuberafknouery: selfskending, anoreksie en seksualiteitsprobleme Foto: 0008 whatsup

Kuberafknouers en boelies is oral en selfs kinders wat tuisonderrig ontvang, spring nie die euwels van afknouery en boelies vry nie. Van sny, anoreksie tot by seksuele probleme is maar net van die uitdagings wat tieners vandag as gevolg van kuberafknouery mee te kampe het.

Een ma is moedeloos en het haar dogter se storie van kuberafknouery met FIND iT gedeel.

Nie eers veilig tydens tuisonderrig

’n Ma, wat anoniem wil bly, se dogter wat tans in gr.8 tuisonderrig ontvang, sê selfs die kinders word nie van kuberafknouery gespaar nie.

“My dogter het in gr.6 aangehou sy wil tuisonderrig begin doen. Ons het later ingegee en albei ons dogters uit die openbare skool gehaal. Dit het eers later uitgekom dat sy erg op skool geboelie was.”

LEES OOK: Nuwe brandstofpryse kan volgende maand skok

“Wanneer sy nie wou doen wat die ander kinders wou hê nie, het hulle haar uitgeskuif en geboelie.”

Boelies op sosiale media

“Nadat sy tuisonderrig begin het en hoërskool (tuis) begin het, het ons toegestem dat sy ’n selfoon mag kry en sosiale profiele mag oopmaak, met die ooreenkoms dat ons alles dophou.”

“Dit is moeilik vir ’n kind wat heeldag by die huis sit om vriende te maak, so dit is hoekom ons ingestem het.”

Die ma sê nie lank daarna nie het haar dogter bitter ontsteld geraak oor ’n vriendin wat haar keer op keer blok en dan weer unblock.

“As my kind nie wou doen of optree soos wat die ander meisie wou hê sy moes nie, het sy haar geblok.”

Boelie op TikTok

Nie lank daarna nie het die vieslike kommentaar en snedige aanmerkings op TikTok begin.

“My dogter het begin om haarself op haar bo-arm te krap/sny. Eers was dit lig en later erger. Van die meisies in die openbare skool het my dogter bespreek en haar naam orals sleggemaak.”

“My kind is klaar so geïsoleer by die huis en wil net een vriendin maak. Ons het al soveel keer vir haar gesê sy is mooi en pragtig en sy moet haarself nie steur aan wat ander mense dink nie, maar sy soek daai erkenning van buite af.”

LEES OOK: Steeds dapper na tweede breinoperasie

Seksualiteitsprobleme

Die ma vertel haar dogter het haar kom uitvra oor seksualiteit en of sy dalk dink sy biseksueel is nadat ’n vriendin op sosiale media as lesbies “uitgekom” het. “Ek dink dit was meer om ‘in’ te probeer wees dat sy die vraag gevra het.”

“Ek het aan haar verduidelik sy kan nie daai keuse maak op grond van wat ander mense sê nie.”

Nie lank daarna is sy op TikTok geblok en gerapporteer deur meisies wat vieslike kommentaar gelos het en gesê het hulle wil nie met haar vriende wees nie.

“Ons het ook agtergekom sy ondersoek gereeld webblaaie oor anoreksie op.”

Soek hulp

“Kinders wil nie altyd hoor wat hulle ouers sê nie. Ons het al probeer hulp vir haar inwin, maar finansies is altyd die probleem. Ons het eenvoudig nie die geld om haar in ’n inrigting te laat opneem nie en ook nie die finansies om R800 per afspraak by ’n sielkundige te betaal nie. Veral nou tydens die pandemie het mens eenvoudig net nie geld nie.”

Effek op familie

“Die hele storie het so ’n effek op my en my man se huwelik. Jy moet sterk wees vir jou kinders. Kommunikasie raak al hoe minder, want mens weet later nie meer wat om te doen of te sê nie.”

“Die probleem wat ek dink baie ouers en kinders ervaar, is: ‘Wat is jou regte?’, ‘Wat kan jy teen boelies doen?’, ‘Wat is die boelies se regte?’ en ‘Kan daar teen hulle ouers opgetree word indien dit nie verander nie?’”

“Mens se kinders dra elke dag die letsels van hierdie soort afknouery terwyl die ander net aangaan met hul lewens.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: