Netflix poog nou om die deel van wagwoorde te onderdruk. ’n Boodskap kan op jou skerm verskyn om jou te vra om jou eie rekening oop te maak indien jy iemand anders se rekening gebruik.
Sommige gebruikers het ’n skerm gesien wat sê: “As jy nie by die eienaar van hierdie rekening woon nie, het jy jou eie rekening nodig om aan te hou kyk.”
Volgens BBC is hierdie toets ontwerp om te verseker dat mense wat Netflix-rekeninge gebruik, daartoe gemagtig is.
Daar moet nog besluit word of die maatskappy dit oor sy netwerk gaan implementeer.
LEES OOK: Vrees oor veiligheid na polisielid van ontvoering en moord verdink word
Doen proeflopie
In die proeflopie kan gebruikers verifieer dat hulle geregtig is tot toegang tot die rekening deur middel van ’n kode wat per SMS of e-pos gestuur word.
Gebruik Netflix teen diensvoorwaardes
Gebruikers kan verskeie profiele binne ’n rekening skep, maar die bepalings en voorwaardes bepaal dat dit bedoel is om deur mense in een huishouding gebruik te word.
Netflix het in 2020 byna 37 miljoen nuwe intekenare gekry en het nou meer as 200 miljoen intekenare regoor die wêreld.



