Paarl-inwoners ontevrede oor proses van ontwikkeling

Deel hierdie storie / Share this story

Daar heers ontevredenheid onder inwoners van Noorder-Paarl oor ‘n ontwikkeling in hul midde waaroor verskeie vrae hang.

Proses nie gevolg

Jaco Prins, woordvoerder vir die VF Plus, sê inwoners wat hulle na die VF Plus gewend het om hulp, en wat in die omgewing van Kerkstraat, waar die ontwikkeling gaan plaasvind op ‘n perseel waar ‘n openbare ruimte was, woon, glo die korrekte openbare deelnameproses is nie gevolg nie en dat die proses daarom nie wettig is nie.

LEES OOK: Is ek nog ‘n maagd? Meisie (13) na verkragting

“Vrae word ook gevra oor die prys van R1,7 miljoen wat die ontwikkelaar, Imvusa Trading 476 BK, betaal het vir die stuk grond (erf nr. 21161) wat groot genoeg is vir die bou van sewentien eiendomme, wat elk vir sowat R1,7 miljoen verkoop gaan word.

“Luidens dokumentasie is die gemiddelde grootte van die eenhede sowat 400 m2.

Vertoë gerig oor Noorder-Paarl

“Volgens die ontevrede eienaars is vertoë oor die aangeleentheid tot die Drakenstein-munisipaliteit gerig en gesprekke is gevoer met die plaaslike wykraadslid asook die burgemeester, mnr. Conrad Poole, maar dit het op dowe ore geval.”

Prins sê nie almal is gekant teen die ontwikkeling as sulks nie, maar oor die ondeursigtige proses wat volgens hulle gevolg is en wat glo eenparig deur die DA-beheerde raad goedgekeur is.

“Die VF Plus sal die raad skriftelik versoek om inligting te verskaf oor die openbare deelnameproses. Indien die proses nie voorskriftelik gevolg is nie, sal dit gekanselleer moet word en van nuuts af gedoen moet word.”

LEES OOK: ‘Sol Plaatje se leuse lyk na Alle munisipale amptenare is spesiaal – party is net meer spesiaal’