Om heeldag in die bloedige Noord-Kaapse son te staan, is nie ’n grap nie, maar vir sommige mense is dit al hoe hulle ’n lewe kan maak en ’n toekoms vir hulle familie kan verseker. Tussen dié myners is daar mense wat dinge op die regte manier doen en hard werk om die pot aan die kook te hou.
FiND iT gesels vandag met Kagiso Samuel Kgoronyane oor sy jare as zama-zama, hoe hy nou ’n wettige myner is en wat sy planne vir die toekoms inhou.
LEES OOK: Twee kinders verdink in gruisgat
Kagiso Samuel Kgoronyane (45) het vir vyf jaar lank as zama-zama agter die begraafplaas by Beefmaster in Kimberley gebly. Hy het intussen ’n mynerspermit gekry en na Groenwater, net buite Postmasburg verhuis.
Swaar lewe
“Die lewe van ’n zama-zama is swaar en ek sal dit nie vir enigiemand aanbeveel nie. Dit is ’n suur lewe wat tot jou huislewe kan beëindig.”
Kagiso vertel hy het skoolgegaan in Metsimantsi op Postmasburg, maar kon net tot standard vier klaarmaak.
“Ons staan elke dag vieruur of vyfuur op om te begin werk. Jy moet heeldag grond kap, deursoek, sif en weer met water sif. Dan moet jy ook dit wat jy gesif het, uitsoek.”
Kagiso sê mens kan heeldag myn en meeste myn heeldag. “Dit hang net af van hoe warm die son is en hoe jou lyf dit kan hanteer.”
Wanneer ’n diamant opgespoor word
“Wanneer ek ’n diamant kry, bel ek ’n dame wat vir my ’n section 18-brief teken, wat my toestemming gee om die diamant kantoor toe te vat sodat dit deur die boeke kan gaan voordat dit na ’n maatskappy vervoer word vir ’n tender.” Dit kan glo ses maande tot ’n jaar vat vir een diamant om opgespoor te word.
Grootste uitdaging
Kagiso vertel die grootste uitdaging is kriminele, meeste van die buiteland, wat sonder permitte kom myn. “Die immigrante breek af en steel. Hulle steel kragkabels ook en almal word dan onder dieselfde kam geskeer. Soms voel dit of die wet sy rug op ons gedraai het.”
“Daar is nou twee groepe – dié wat aansoek gedoen het en wettig myn en dié wat onwettig myn en als onderdeur die tafel verkoop.”
Hoop vir die toekoms
Kagiso sê hy sal graag wil sien dat die wet hulle in die toekoms sal ondersteun en help om van kriminele ontslae te raak.
Ten spyte van sy omstandighede wil Kagiso hoop aan die gemeenskap bring.
“Ek sal graag oor vyf jaar van nou af my eie baas wil wees en werk vir my gemeenskap skep.”
Lees meer artikels hier.



