VF-plus beklemtoon: ‘Onderwys gaan nie oor syfers nie’

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA. – Die VF-plus voel as daar na matriekslaagsyfers gekyk word, moet daar nie na die syfers alleen gekyk word nie. Die party voel skole maak ook dié fout. Daar moet na die opvoedkundige werklikheid agter die syfers gekyk word.

“In skole is daar ‘n toenemende neiging om sodanig op die aantal leerders met bepaalde punte te fokus, dat eksamenafrigting die plek van werklike onderwys en opvoeding inneem. Op dieselfde wyse moet ‘n mens kyk watter opvoedkundige bydrae ‘n bepaalde skool tot die plaaslike gemeenskap maak, eerder as bloot na die syfers,” sê dr. Wynand Boshoff, hoofwoordvoerder van basiese onderwys.

In hul moedertaal skool gaan

Die werklikheid is dat onderwys oor mense gaan, mense en hul gesindhede teenoor die leerproses. Natuurlik het kinders wat in hul moedertaal skoolgaan ‘n reuse voordeel, maar dit is nie al nie. Die gesindheid teenoor onderwys wat in ‘n gemeenskap heers, is selfs meer bepalend.

Dit is hierdie opsig waarin die wanbalanse van die verlede die grootste skeiding tussen skole en leerders maak. Sedert 1976 is onderwys volgens die slagspreuk van liberation before education benader. Dit het beteken dat skole wat ontoereikend was, liewer gebrand as gebou is.

Gerespekteer te word

Onderwysers is as verraaiers beskou, omdat hulle deel was van ‘n bedeling wat rewolusionêre leerders omver wou werp. Die reaksie van onderwysers was om leerders in hul politieke aktivisme te probeer oortref, in ‘n poging om gerespekteer te word.

Die kloof tussen suksesvolle en onsuksesvolle skole in Suid-Afrika is nie die kloof tussen ryk en arm, wit en swart of stedelik en landelik nie. Dit is tussen die kultuur van leer in skole waar onderwysers aan verskillende vakbonde behoort.

Onderwys is ‘n vennootskap tussen ouers, hul kinders, onderwysers en die res van die gemeenskap. In gemeenskappe waar daardie vennootskap eendragtig na goeie onderwys streef, wys die uitslae dit. Dit geld ook waar die teendeel geld.

Volg FiND iT hier vir die nuutste nuus.