“Ongelukkig moet ek steeds vir my data betaal, geen 5G-effekte hier nie,” is Bloem MomDoc se tong-in-die-kies aanmerking 24 uur na sy die Covid-19-inenting ontvang het. “Ek het nog geen ekstra ledemate nie en ek praat ook nie skielik Russies nie.”
Dr. Chantelle van der Bijl van die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein het die blog, Bloem MomDoc, begin om bekommerde ma’s se vrae te beantwoord.
Sy vertel op haar Facebook-blad hoe newe-effekte van die inenting teen die Covid-19-virus voel.
“Die nerd in my is mal oor hierdie post-enstofeffekte, want dit wys my liggaam is besig om antiliggaampies te maak om hierdie ding te beveg. Ek voel dalk sleg, maar dis mooi om te sien!”
“Ek het 21:00 erg koud gekry. Ek het geen koors gehad nie, maar ek het baie koud gekry. Dit was teen 23:00 weg en ek het soos ‘n klip geslaap.”
Verder vertel Van der Bijl dat sy ‘n paar van die newe-effekte soos spierpyn en kouekoors ervaar, maar dat dit beslis die moeite werd is.
“Meer en meer navorsingsdata word bekendgemaak. Hierdie inentings is veilig en effektief, selfs teen die variante van die virus met mutasies. Baie mense is bekommerd oor die langtermyn-effekte van die inentings, maar ek daag hulle uit om eerder oor die langtermyn-effekte van Covid-19 te bekommer.”



