Man gearresteer vir verkragting van ses seuns

Deel hierdie storie / Share this story

KAAPSTAD.- ’n Man (33) is Vrydag gearresteer omdat hy glo ses seuns bedwelm, verkrag en gebrand het.

Volgens IOL het die verdagte in dieselfde straat as die seuns gewoon. Hy het hulle glo Vrydag met ’n warm strykyster en batterysuur gebrand.

Hy is twee dae na die voorval gearresteer.  Die een seun se bobeen het duidelike driehoekige merke waar hy met ’n strykyster gebrand is.

Kaptein FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het gesê die beskuldigde het Dinsdag in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn en die saak is vir sewe dae, vir verdere ondersoek, uitgestel.

Die verdagte bly in aanhouding.

Die man het glo die seuns bedwelm en hulle aan homoseksuele pornografie, vir agt maande voordat hy hulle verkrag het, blootgestel.

Volgens die een seun het die man gedreig om hulle bloot te stel as hulle nie omgang met hom het nie. Hy sê Vrydag toe hy geweier het om saam met die man te slaap, is hy met ’n strykyster gebrand en met ’n besemstok geslaan.

Die seun (16) sê dat hy die man deur sy vriend ontmoet het. Die eerste keer wat hy die man ontmoet het, het hy vir hom dagga, tik en alkohol gegee. Daarna het hy gedreig hy gaan sy ouma daarvan sê.

“Hy het my forseer om pornografie van mans te kyk en daarna het hy my verkrag en gesê ons is nou in ’n verhouding.”

Die laaste keer wat die seuns na hom toe gegaan het, het hy glo weer vir hulle dwelms gegee en hulle is weer verkrag.

“Hy het vir my ouma gesê hy is ons mentor en hy hou ons weg van dwelms af. Toe ek my ouma uiteindelik sê wat gebeur het, het ons polisiestasie toe gegaan om ’n saak oop te maak.”

Lees ook: Man tronk toe vir statutêre verkragting