Die 27ste Februarie is World Sustainable Energy Day, en soos ons weet, is die gebruik van meer volhoubare energiebronne noodsaaklik om ons planeet teen aardverwarming te beskerm.
Laer elektrisiteitsrekeninge bevoordeel ook die gebruiker, en in Suid-Afrika beteken dit weer minder druk op die nasionale netwerk.
Brights Hardware het ‘n lys van idees opgestel oor hoe jy meer volhoubare oplossings in jou huis kan gebruik.
Laat daar (LED) lig wees
Om die gloeilampe in jou huis met LED-opsies te vervang, is ‘n uitstekende manier – en een van die maklikste – om volhoubare energie te gebruik.
LED-gloeilampe hou langer as gewone gloeilampe en gebruik baie minder elektrisiteit.
Sonoplossings
In ‘n sonnige land soos ons s’n is dit geen kwessie om sonkrag-aangedrewe energie te gebruik nie.
Sonkraginstallasies kan grootliks wissel, van ‘n intreestelsel wat ‘n paar toestelle en ligte krag gee, tot ‘n volledige huisinstallasie wat jou heeltemal van die elektrisiteitsnetwerk afneem.
Installeer ‘n hittepomp
‘n Hittepomp werk soos ‘n lugversorgingseenheid in trurat – dit haal hitte uit die omringende lug.
Dit word dan deur ‘n hitteruiler waarin die water verhit word, gelei.
Dus word net ‘n bietjie elektrisiteit gebruik om ‘n waaier en kompressor aan te dryf terwyl die hitte-energie indirek deur die son voorsien word.
Gee dit gas
Daar is uitstekende gasweergawes van meeste noodsaaklike huishoudelike toestelle beskikbaar.
Wat kook betref, is daar tans baie verskillende gasopsies wat verbruikers beskikbaar het – of dit nou ‘n groot gaskookplaat en -oond is, of net ‘n eenvoudige tweeplaat-gaskookplaat.
Daar is ‘n groot verskeidenheid op die mark en die voordele van gas is byna onmiddellike warm water minus die elektrisiteitsverbruik.
Sit ‘n tydskakelaar op jou geiser
Jy kan maklik ‘n tydskakelaar (timer) op jou geiser plaas.
Jy het slegs warm water op sekere tye gedurende die dag nodig, en as jou geiser elke dag die hele dag aan is, gebruik jy meer elektrisiteit as wat jy nodig het.



