Die VF Plus het ‘n skrywe aan die munisipale administrateur van die Phokwane-plaaslike munisipaliteit gerig oor waterprobleme in Hartswater wat ooglopend nie geskik is vir menslike gebruik nie. Dit het nou gelei tot ‘n verslag wat in die raad ter tafel gelê is en ʼn besluit wat geneem is om op te tree om die situasie te verbeter.
“Daar is besluit om ʼn opgaardam asook reservoirs oor die volgende paar weke skoon te maak. Verder word ‘n skedule vir toekomstige skoonmaak en instandhouding opgestel. Inwoners kan ongelukkig verwag om oor die volgende paar dae steeds vuil water in die stelsel te kry, maar daarna behoort dit te verbeter,” sê Theo Joubert, VF Plus-raadslid.
“Die watersuiweringstelsel beskik nie meer oor voldoende kapasiteit om die gemeenskap te bedien nie, maar ‘n begroting is reeds goedgekeur vir die vervanging van die filtreringsand en die nodige herstelwerk.”
“Die VF Plus beskou dit as ‘n positiewe verwikkeling en ‘n stap in die regte rigting. Inwoners word egter versoek om steeds nie water direk uit krane te drink nie en word aangeraai om dit eers te kook of om gesuiwerde water te koop.”



