“Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om patrollies by misdaadbrandpunte op te skerp, veral omdat Sol Plaatje-munisipaliteit skitter in hul afwesigheid om infrastruktuur te beveilig. Ons beroep volg op gisteroggend se poging deur koperdiewe om meer as een kilometer koperkabels in die Kamfersdam-gebied te steel,” sê Ockert Fourie, DA-raadslid.
“Terwyl die diewe nooit met die koperkabels weggekom het nie, het hulle ‘n lang loopgraaf langs die besige N12 gegrawe sonder om opgemerk te word (sien foto hier). ‘n Aantal huishoudings, sowel as die Witdam-polisiekantoor, is vir ure sonder elektrisiteit gelaat omdat die kabels geknip is. Sommige inwoners in die omgewing vrees nou vir hul lewens.”
“As Sol Plaatje net veiligheidsmaatreëls in plek gehad het, insluitende roetine-patrollies, sou die onnodige kragonderbreking voorkom kon word. Sol Plaatje kan egter nie eens sy nasionale sleutelpunte beveilig nie weens ‘n gebrek aan gekwalifiseerde veiligheidsbeamptes én voertuie. Dit is ondanks toenemende diefstal en vandalisme van munisipale infrastruktuur. Trouens, nadat die kabels gister reggemaak is en die krag herstel is, het die munisipaliteit nie eens die moeite gedoen om die loopgrawe toe te maak nie, wat dit vir die kabeldiewe maklik gemaak het om weer toe te slaan.”
“Terwyl Sol Plaatje se aangepaste begroting min hoop gee dat bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel sal word, wat gesien kan word in die onlangse kansellasie van die aanstelling van 28 veiligheidspersoneel, sal die DA die saak weer in die raad ophaal. Ons sal ook vrae rig rakende die strafsaaknommers ten opsigte van elk van die voorvalle van diefstal, want ons is bekommerd dat Sol Plaatje dit onder die radar kan laat gly.”
“Intussen sal ons ook ‘n brief rig aan die waarnemende polisiekommissaris, generaal-majoor Henriette de Waal, om meer gereelde patrollies in die betrokke gebied te implementeer.”
“Beskerming van infrastruktuur is belangrik om die stad te laat werk.”



