Entstofbedrog: mense gee voor hulle is gesondheidswerkers

Deel hierdie storie / Share this story

WES-KAAP. –  Die departement van gesondheid in die Wes-Kaap sê daar was al ’n paar gevalle waar mense hulle voorgee as gesondheidswerkers om die entstof te ontvang.

Volgens All4Women moet gesondheidswerkers in die provinsie nou ’n personeelkaart of ander vorm van bewys toon voor hulle die entstof sal ontvang.

 “Dit is heeltemal onaanvaarbaar,” het dr. Saadiq Kariem, bedryfshoof van die departement, tydens sy weeklikse digicon oor Covid-19 gesê.

Ander probleme wat ondervind is, is dat die personeel moes gebruik maak van papierrekordhouding, wat dan ’n vertraging veroorsaak het om die data op die rekenaar te sit, asook personeel wat nie handskoene dra tydens die hantering en toediening van die entstof nie.

“Ander het koors en spierpyn”

Dr. Sa’ad Lahli, een van die gesondheidswerkers wat verlede week die entstof in Khayalitshi-distrikshospitaal ontvang het, sê behalwe sy arm wat bietjie seer is, het hy geen ander newe-effekte ervaar nie.

“Ander het koors en spierpyn wat verdwyn het.”

Hy het bygevoeg: “Daar is geen chip in my ingeplant nie. Die regering probeer nie om my te agtervolg of so iets nie.”

Handskoene tydens inenting

Om die kommer oor personeel wat nie handskoene tydens inenting dra nie, uit die weg te ruim, het Lahli gesê dat dit internasionaal aanvaar word om nie handskoene vir inentings te dra nie.

Die inenter se hande word gesteriliseer.  

Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid, sê dit is veiliger, want dit verhoed die moontlikheid dat die personeellid vergeet om handskoene tussen inentings te verander, en handskoene kan baie vuilheid opbou.

Ontvangers word gemonitor

Ontvangers sal twee jaar lank gemonitor word, aangesien die Amerikaanse voedsel- en dwelmadministrasie en die S.A. Gesondheidsprodukte-owerheid nog oorweeg om die finale entstof goed te keur.

’n Derde vlaag van die Covid-19-pandemie word in Maart of April vir Suid Afrika voorspel.

Lees ook: 80 migrante in ’n tenkwa aangehou, vervoer vir mensehandel