Jy het ’n gunstelingdenim en jy weet nie waar gaan jy weer so een kry as die een nou eers begin uitwas, uitrek en so hangerig raak by jou knieë nie. Volgens WomenandHome is daar ’n spesifieke manier wat jy jou denim moet was om te verseker hy behou sy kwaliteit langer.
Hoe gereeld moet jy jou denim was?
Volgens WomenandHome eers na elke vierde tot vyfde keer wat jy hom gedra het. ’n Denim se materiaal is duursaam en stewig. Jy kan hom ’n paar keer dra sonder dat hy vuil raak.
Hoe om jou denim te was
Handwas
Was jou denim met die hand in koue water. Dit sal verseker dat jou denim se kleur nie uitwas nie, asook dat hy nie uitrek nie.
- Sit jou denim in ’n bad of wasbak.
- Tap koue water in
- Gooi handwasmiddel in.
- Laat dit vir so 45 minute week in die water en beweeg dit net elke kort-kort.
- Spoel dan met skoon koue water uit en hang tot droog.
Wasmasjien
Nie ’n aanhanger van handwas nie? Dis oukei, kyk na die sorginstruksies van jou denim om seker te maak wat jy mag en nie mag doen nie.
Gewoonlik sal dit ’n koue, sagte was wees.
Voordat jy jou denim in die masjien gooi, moet jy dit eers omdop en al die knope en ritssluiters vasmaak. Dit sal jou denim se vorm en kleur beskerm.
Geskeurde denims

Omdat ’n geskeurde denim reeds geskeur is, moet jy seker maak jy was hom versigtig sodat hy nie verder skeur en dan nie meer modieus lyk nie.
Die denim moet verkieslik met die hand gewas word, maar as jy nou moet gebruik maak van ’n wasmasjien – sit eers die denim in ’n kussingsloop en was hom dan daarin. Dit sal verhoed dat hy nie vashaak en verder skeur nie.
Geen denim moet in die son opgehang word om droog te raak nie. Die son sal die kleur verbleik. Moet ook nie jou denim in ’n tuimeldroër gooi nie, dit kan die vorm van jou denim belemmer.
Hang jou denim in die koelte tot hy droog is en vou dadelik op of hang in jou kas.
Lees ook: Werklikheidster beweer hy was gemolesteer deur vervaardiger



