Vanwyksvlei – humanitêre rampgebied

My emosies is ‘n warboel. Ek het soveel om voor dankbaar te wees en uit my dankbaarheid weet ek ek moet daardie gemeenskap volgens my vermoeëns help.

Humanitere Rampgebied

Humanitere Rampgebied

Vanwyksvlei, ‘n dorpie daar anderkant niks en nêrens, ‘n gemeenskap waar met skaap geboer word. Ek het geweet daar is so ‘n plek in ons land, maar was 19-20 Februarie vanjaar die eerste keer in my lewe daar. Hoe beskryf ek die amper vergete plekkie op die landkaart? Sand. Rooi sand wat poeier getrap is. Dor. Droog. Sout van die aarde, wonderlike boeremense. Verder niks.  

My emosies is ‘n warboel. Ek het soveel om voor dankbaar te wees en uit my dankbaarheid weet ek ek moet daardie gemeenskap volgens my vermoëns help. As elkeen van ons ‘n druppel in die Vanwyksvlei-emmer gooi, kan ons hulle help om moed te kry, eiewaarde te herwin, te oorleef.

Hoe doen ek dit?  Bid. Vir reën in Vanwyksvlei-omgewing – NOU. Reën gee moed. Voed die aarde sodat iets weer daar kan groei. Dis kos vir verhongerde skape en ander diere. Dis water wat elke mens en dier nodig het om te oorleef.

Ons het by ‘n gesin op hul plaas oorgeslaap. Hul behoeftes raakgesien. Saam met die boer  op sy plaas rondgery. Daar is niks behalwe droë bossies hier en daar en verder kaal, dors grond nie, maar sy liefde vir sy grond en vee straal steeds soos ‘n helder lig uit hom uit. En my hart wil breek. Oor hom en al die ander soos hy. Daar is voer, maar daar is nie geld vir diesel om die voer te maal nie. Daar is  basiese lewensmiddele, maar daar is nie geld vir brandstof om dorp toe te ry nie. Elke sent wat hulle mag inkry, moet sewentig maal sewe keer omgedraai word. 

Besluit wat is die nodigste. Koop dit. Kom klaar sonder die res. Mediese fondse  en polisse is lankal gekanselleer. Daar is nie geld om na ‘n dokter te gaan nie. Daar is nie geld om jou kind  op skool en koshuis te hou nie. Besef ons wat dit beteken om letterlik niks geld te hê nie? Jy kan nie tandepasta koop nie. Nie brood nie. Ook nie enigiets anders nie. En dit, my vriende, is wat tans die grootste behoefte is: geld. Nie vir luukses nie. Nie vir ‘n vakansie nie. Nie vir ‘n besoek aan ‘n spa nie. Net vir basiese goed.  Brandstof. Skoolgeld. ‘n Ietsie om in die kerk se kollektebordjie te gooi. Medisyne. Geld vir daardie dinge wat ek en jy elke dag as vanselfsprekend aanvaar, waaroor ons nie eens dink nie.  

 As elkeen van ons ‘n kontantbydrae maak, enige bedrag wat jy kan bekostig, gaan dit ‘n verskil aan Vanwyksvlei se mense maak. R50 sal jy nie eens voel aan eie sak nie, maar dis melk en brood of drie liter brandstof vir hulle. Dus doen ek ‘n ernstige beroep op al my vriende en familie en elkeen wat hierdie lees, om van jou genoeg te deel met hierdie gemeenskap.  Eintlik PLEIT ek by  julle! En as jy regtig nie kan bekostig om ‘n paar rand  by te dra nie, stuur asseblief hierdie boodskap aan soveel jy kan. Iewers sal dit wel by iemand uitkom wat ‘n verskil kan help maak.

As jou hart vir jou sê om by te dra, kan jy jou bydrae inbetaal in Claude Reid Prokureurs in Bloemfontein se trustrekening – hulle sal dit vir ons administreer.  

Claude Reid
Standard Bank
Rekeningnr. :  041060016
Takkode 055034
Verwysing :  WE 0854 en jou naam

Enige navrae kan gerig word aan Calla van Niekerk op 0832619951 of Rita Wessels by 0794813638.

Baie dankie by voorbaat dat jy jou hart en beursie sal oopmaak en hierdie pleidooi wyd sal versprei.

– Rita Wessels

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: