Top 10 binnenshuisontwerptendense vir 2021

Omdat ons baie meer tyd in ons huise spandeer, gee ons meer aandag aan ons binnenshuisomgewing.

Top 10 binnenshuisontwerp-tendense vir 2021. Foto: Vecislavas Popa

Top 10 binnenshuisontwerp-tendense vir 2021. Foto: Vecislavas Popa

Ons huise is nie meer net die plek waar ons ontspan wanneer die werksdag verby is nie. Dit is nou ons kantoor, plek van vermaak, of klaskamer.

Omdat ons baie meer tyd in ons huise deurbring, gee ons meer aandag aan ons binnenshuisomgewing.

Hier is 10 van die top binnenshuisontwerptendense vir 2021, volgens Property Factor.

1. Tyd vir plante

Hierdie is die tyd vir binnenshuise plante. Terwyl mense so gereeld en vir so lank binnenshuis is, word die helder kleure en reuke van die natuur verlang.

Hierdie tendens gaan daaroor om die buitelug binne te bring, met hangende plante, groen mure, groot potte en ruimtes wat versier is met plante.

2. Veeldoelige kamers

Voorheen was om van die huis af te werk, meestal ongehoord. Nou moet ons ons huis en kantoor integreer en produktief wees in ons privaat ruimte.

Dit benodig meubels wat verskeie funksies kan verrig. ‘n Uittrek-lessenaar en boekrakke in kaste, of ‘n lae lessenaar as ‘n koffietafel.

3. Oopplan kom tot ‘n einde

Mense is nou op soek na privaatheid om werkvergaderings te hou, na lesings en webinare te luister of net vir ‘n geruime tyd alleen te wees.

Sommige is van mening dat oopplanhuise uitgedien is, terwyl ander sê dat minder formele skeiding, soos byvoorbeeld gordyne, boekrakke of mobiele panele om privaatheid te gee, nodig is.

4. Trappe word prakties

Trappe word as meubels geïntegreer, en die ruimte daaronder word op nuwe en kreatiewe maniere gebruik vir ekstra stoorplek, werkareas en rakke.

5. Hout en beton

Dit maak ‘n terugkeer danksy duursaamheid en lae instandhouding.

Die warmte, gemak en tekstuur van hout pas perfek by die gladde en verfrissende gevoel van beton, wat elegante styl in elke kamer inbring, of dit nou ‘n slaapkamer of ‘n badkamer is.

Dit word gebruik vir plafonne, vloere en mure.

6. Rottang is terug

Hierdie is nog ‘n manier om die natuur in die huis in te bring. Maar nie in die vorm van ou, bonkige meubels nie – eerder ‘n moderne aanslag. Dit wys in ons stoele, afwerkings, matte en ligte.

7. Muurpapier

Omdat baie van ons vir lang tydperke tuis is, kan dit vervelig raak om na dieselfde mure en patrone te kyk. Muurpapier laat jou toe om van jou meer eksperimentele idees uit te leef.

Dit kan gebruik word om ‘n funksionele muur te beklemtoon of ‘n kamer op te kikker.

8. Boë

Die dae van skerp lyne is verby. Die byvoeging van kurwes skep ‘n organiese voorkoms en ‘n klassieke gevoel in ons moderne huise.

Boë is tydloos, luuks en altyd stylvol. Dit kan wees in die vorm van deure, vensters, meubels, kosyne of spieëls.

9. Die perfekte grys

Die kleur van 2021 bied ons ‘n foutlose doek – neutraal, maar nie leeg nie. Dit sal altyd pas by enige bui waarin jy is. Jy kan nie verkeerd gaan met grys nie.

10. Neoteniese ontwerp

Hierdie ontwerpneiging bing speelsheid na meubels . Neotenies verwys na “die oordrywing van kinderlike eienskappe”.

Hierdie meubels is ontwerp vir styl, maar nie nodig vir gemak nie. Die stukke is eksentriek en kleurvol, met groot, afgeronde kante.

Bron: www.propertyfactor.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: