“Ek haat myself”: Agt maniere om selfhaat te bestry

Agt maniere om selfhaat te bestry. Foto: De Andre Bush
As jy gevul is met gevoelens van selfhaat, weet jy hoe frustrerend dit kan wees.
Selfhaat beperk nie net wat jy in die lewe kan bereik nie, maar dit vererger ook geestessteurnisse soos angs en depressie.
Om gevoelens van selfhaat te oorkom, is dit belangrik om die tekens en simptome te herken, die onderliggende oorsake te verstaan, die kragtige gevolge wat dit op jou lewe het te besef, en ‘n plan te maak om die gevoelens te oorkom.
Tekens van selfhaat:
Fokus op die negatiewe
Beskou jou gevoelens as feite
Lae selfbeeld
Soek na goedkeuring
Kan nie komplimente aanvaar nie
Probeer inpas
Neem kritiek persoonlik op
Voel jaloers
Vrees vir positiewe verbintenisse
Bang om groot te droom
Oorsake van selfhaat:
Negatiewe innerlike kritiek
Negatiewe lewenservarings
Slegte kinderbelewenisse
Slegte verhoudings
Word geboelie deur ander
Traumatiese gebeure
Geestessteurnisse
Hoe om selfhaat te bestry:
As jy selfhaat wil oorkom, is daar ‘n aantal stappe wat jy kan neem.
Hou ‘n joernaal. Hou ‘n joernaal om oor jou dag na te dink en te verstaan hoe jy gevoel het oor wat gebeur het. Dink na oor die gebeure van die dag, ondersoek situasies wat sekere emosies kon veroorsaak, en let op die oorsake van jou selfhaat.
Daag negatiewe denke uit. Wanneer jy meer bewus word van jou emosies en wat hulle veroorsaak, moet jy die gedagtes identifiseer wat jy ervaar wanneer jy voor negatiewe gebeure te staan kom. Vra jouself of jou gedagtes realisties is en of jy gedagtes verdraai.
Kyk anders na situasies. Kyk na situasies in ‘n ander lig. Sien die goeie dinge wat jy bereik en maak ‘n einde aan swart-witdenke.
Spandeer tyd saam met positiewe mense. In plaas daarvan om met mense te kuier wat jou sleg laat voel, begin om te kuier met mense wat jou goed laat voel. As jy nie sulke mense in jou lewe ken nie, oorweeg dit om by ‘n ondersteuningsgroep aan te sluit.
Oefen meditasie. Probeer om gereeld te mediteer as jy dit moeilik vind om jou van jou negatiewe denke te ontkoppel. So kan jy die negatiewe stem in jou kop stil maak.
Besoek ‘n terapeut. As jy met jou geestesgesondheid sukkel, kan jy baat vind by ‘n terapeut. Alhoewel dit moontlik is om jou ingesteldheid op jou eie te verander, kan ‘n terapeut jou help om vroeër trauma te hanteer en ook meer nuttige denkpatrone te beoefen.
Beoefen selfversorging. Dit beteken dat jy na jou liggaamlike en geestelike gesondheid moet omsien deur al die dinge te doen wat jou goed sal laat voel.
Vind betekenis. Begin om ‘n tree te gee in die rigting van wat jy in die lewe wil hê. Vind ‘n nuwe loopbaan, reis, raak skuldvry, beëindig ‘n verhouding, begin ‘n gesin of trek na ‘n nuwe plek.
Dit is maklik om te dink dat jy die enigste een is wat sukkel met die gedagte dat jy jouself haat. Die waarheid is dat baie mense dieselfde voel, en jy is nie alleen nie.
Vandag kan jy die eerste stap neem om beter te voel en ‘n lewe te lei wat nie gevul is met selfhaat en negatiewe denkpatrone nie.
Bron: www.verywellmind.com