Wat ouers van seksuele gereedmaking moet weet

Dit beteken dat hulle hul teiken op ’n nie-seksuele manier sal aanraak om hulle daaraan gewoond te maak.

Wat ouers van seksuele gereedmaking moet weet

Wat ouers van seksuele gereedmaking moet weet

Seksuele gereedmaking verwys na die gedrag wat ’n kindermolesteerder gebruik om ‘n kind as t’ ware sag te maak om hom of haar later seksueel te misbruik. Seksuele gereedmaking is nie altyd maklik om te identifiseer nie en ouers moet ekstra aandag skenk aan hul kinders en die volwassenes rondom hulle om dit raak te sien.

 Die eerste stap om jou kinders teen seksuele misbruik te beskerm, is om te leer oor die verskillende stadiums in die proses van seksuele gereedmaking.

Kindermolesteerders is vaardig met manipulasie

Gereedmaking behels nie net die manipulering van kinders nie, maar ook hul ouers en alle ander volwassenes wat in die omgewing van die kind is. As gevolg van hul manipuleringstaktieke is dit baie moeilik om seksuele misbruikers raak te sien. Hulle lyk dikwels sjarmant en vriendelik terwyl hulle lieg en planne maak om nader aan ’n kind te kom. Ongelukkig kan ’n mens soms die gebeure wat daartoe gelei het, eers ná die misdaad verstaan.

Hoe slagoffers gekies word

Diegene wat in uiterste gevaar is, is die kinders wat nie genoeg toesig van ouers ontvang nie. Dié kinders is kwesbaarder en makliker toeganklik. Kinders met ’n lae selfbeeld en wat te maklik vertrou, word ook gereeld geteiken.

Toeganklikheid

Die molesteerder sal moontlik die kind se skedule leer ken. Hulle kan ook met ouers en enkelouers bevriend raak om sonder agterdog toegang tot die kind te kry.

Wen vertroue

Die manipuleerder sal die vertroue van die kind, die ouers en die gemeenskap probeer wen. Sodoende hoop hulle dat hulle hul misbruik sal kan deurvoer sonder dat dit opgelet word. Vertroue kan deur klein geskenkies, spesiale aandag of geheime gewen word. ’n Kind of tiener sal nie verstaan ​​dat hulle gemanipuleer word nie en daarom sal hulle die persoon begin vertrou.

Desensitisering van die slagoffer

Die kindermolesteerder sal probeer om die kind teen aanraking te desensitiseer. Dit beteken dat hy sy teiken op ’n nie-seksuele manier sal aanraak om hom of haar daaraan gewoond te maak. Gedurende hierdie stadium sal die manipuleerder sy teiken omhels, met hom of haar stoei of kielie. Die doel is om die kind gemaklik met aanraking te laat voel.

Die handhawing van die verhouding

Sodra die mishandeling begin, sal die kind nie weet wat om te doen nie. Die mishandeling sal die kind verlore, bang en verward laat voel. Die mishandelaar sal optree met gedrag wat daarop gemik is om die verhouding te handhaaf deur die kind aan te moedig om geheime te hou, deur te sê: “Ek is lief vir jou” en “Jy is spesiaal” en die kind te oortuig die mishandeling is normaal. Wat erger is, as die kind eers besluit om iemand te vertel wat gebeur, sal die molesteerder hom of haar begin bedreig of verantwoordelik vir die mishandeling laat voel.

Lees meer berigte hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: