KIMBERLEY. – Groot hartseer heers in die harte van geliefdes na ’n gru-botsing wat gister omstreeks 10:00 op die Kaapstad-pad oorkant die GWK-gebou plaasgevind het. Een meisie is oorlede en ’n ander ernstig beseer.
Mooi van binne en buite
Juné van der Merwe (22), ’n voormalige student van Laerskool Eureka, Hoërskool Noord-Kaap en bemarking- en korporatiewe kommunikasiestudent aan die Universiteit van die Vrystaat, is ernstig tydens die ongeluk beseer.
Juné, wat werksaam is by Pam Golding, se toestand is in hierdie stadium nie bekend nie.
Volgens haar vriende, is sy die lig in hulle lewens. Sy is mooi van binne en buite.
“Ons gebede is met jou en jou familie. Ons weet jy is ’n vegter. Ons weet ook die Here waak oor hulle in hierdie stryd,” het ’n vriendin op van der Merwe se Facebook-bladsy geskryf.
Die Here het sy happy-go-lucky engel kom haal
Zan-Marie (22), ook ’n voormalige student van Laerskool Eureka, Hoërskool Noord-Kaap en ’n BCompt finansiële rekeningkunde-student aan Unisa, het nie die ongeluk oorleef nie.
Zan-Marie, ’n versekeringsgenoot by Price Waterhouse Coopers, word deur haar vriende as ’n bubbly, happy-go-lucky-meisie beskryf. Sy het ’n baie sterk persoonlikheid gehad en het altyd almal laat lag.
Zan-Marie se halfbroer, Wikus Olivier, ’n snoeker-kampioen, is in 2003 in ’n motorfiets-ongeluk oorlede toe hy net 17 jaar oud was.
Menige medelye het op Facebook vir haar ingestroom.
Aand verander in ’n nagmerrie
Juné en Zan-Marie het glo gisteraand saam met hul groep vriende by Diggies-lodge gaan kuier. Die ongeluk het op pad huis toe plaasgevind.
FiND iT wag vir kommentaar van die polisie.



