Vleislose Maandag is ’n wêreldwye beweging wat mense aanmoedig om vleis in hul dieet te verminder vir hul gesondheid en die gesondheid van die planeet.
Hierdie week se resep is kekerertjies en spinasiekerrie, want wie sê dat jy nie in die middel van die somer lekker kerrie kan geniet nie? Die geure in hierdie resep word uitgebring te danke aan klappermelk, koljander en suurlemoen.
(vir twee mense, kooktyd 30 minute)
Bestandele
1 eetlepel olyfolie
1 ui, geskil en in skywe gesny
1 teelepel koljander
1 teelepel komyn
1 teelepel kardemom
1 teelepel borrie
½ teelepel rooipeper
¼ teelepel mosterdsaad
1 teelepel geskilde en gerasperde gemmer
2 knoffelhuisies, geskil en fyngekap
1 teelepel bruinsuiker
Sap van 1 suurlemoen, plus ekstra skywe om voor te sit
400 g blik kekerertjies, gedreineer
400 ml blik klappermelk
1 rooi brandrissie, fyngekap
200 g babaspinasie
Sout
Koljander, om te versier
Metode
1. Verhit die olie in ‘n kastrol oor matige hitte. Voeg die ui en gedroogde speserye by en kook vir een minuut.
2. Voeg die gemmer, knoffel, suiker en suurlemoensap by. Sodra die suiker opgelos is, roer die kekerertjies daarby en braai tot goudkleurig.
3. Voeg die klappermelk en brandrissie by. Prut vir 10 minute.
4. Roer die babaspinasie by en kook vir ‘n paar minute tot dit sag is. Geur na smaak.
5. Sit voor saam met koljander- en suurlemoenskywe.



