Spookstorie-reeks: Vloek in ’n Bybelboek

*** Spookstories word deur FiND iT-lesers ingestuur en is nie die opinie van FiND iT nie.***

Glo jy aan vloeke? Ek is seker daarvan iemand het my probeer vervloek.

Ek en my man was daai jare pasgetroudes. Om te sê my skoonfamilie was teen die troue gekant, is nie eers naby aan die realiteit nie.

Daar was voor en na die troue altyd ’n bakleiery en onnodige onderonsies. Ek het altyd my kant probeer skoon hou, maar steeds het hulle eenvoudig nie van my gehou nie.

Bybeldagboek as geskenk

Ek het na ons troue, op my verjaarsdag, ’n geskenk van my skoonouers af ontvang. Ek was stomgeslaan en kon nie verstaan hoekom hulle vir my ’n geskenk sou koop nie.

Ek het die pakkie versigtig oopgemaak en gesien dit is ’n Bybeldagstukkieboek. Ek het hulle bedank en dit gebêre.

Die aand later het ek die pakkie, net so, met die boek nog binne-in, in my kas gegooi en daarvan vergeet. Ek wou nie regtig iets van hulle af hê nie.

Dinge raak vreemd

Van daardie aand af het daar snaakse dinge in ons huis gebeur. Ons het reeds maande voor die tyd ingetrek en nooit het daar voorheen iets snaaks gebeur nie.

Dit het vir my gevoel asof oë ons heeltyd dophou. Ek het saans geluide gehoor, soos iemand wat in die huis loop, maar nooit iemand gesien nie.

Ek en my man het verskriklik begin baklei. Ons het albei in ’n kort rukkie ons werk verloor. Dinge het erg agteruit begin gaan. Ek het ’n paar maande later swanger geword, maar ons geluk het nie lank gehou nie. Ek het ’n baie traumatiese miskraam gehad.

Dinge raak erger

My man het later in sy slaap begin praat en woede-uitbarstings gehad. Alles in ons huis het bly breek, tot ons kar.

Dinge het so sleg geraak dat ek en my man nie eers meer twee woorde gehad het om vir mekaar te sê nie.

Besluit om te trek

Na een van my man se woede-uitbarstings, het ek besluit om my klere te pak en terug na my ouers te gaan.  Ek het begin om klere uit my kas te haal, toe ek op die pakkie met die boek in afkom.

Ek het dit uit nuuskierigheid oopgemaak. Tot my groot skok het ek afskuwelike goed in die boek gekry. Daar was oor die bladsye gekrap en snaakse prentjies geteken. Daar was tot droë bloed op van die bladsye.

Boek wil nie brand nie

Ek het net daar besluit om die boek aan die brand te steek. Ek het dit in ons kaggel gegooi en weggestap. Ek was oortuig ons probleme was verby.

Ek het ure later teruggegaan en die boek het nie eers ’n merkie op gehad nie. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek het ’n vriendin gebel en sy het saam met my uit die dorp uit gery en ons het die boek by die kar se venster uitgegooi.

Van daar het dinge al hoe beter begin gaan totdat dit na normaal teruggekeer het. Ek het nooit vir my man van die boek vertel nie. Ek dink nie hy sou my ooit glo nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: