February 26, 2021

Gestremde seuntjie en sy familie benodig hulp

KIMBERLEY. – Magda en Henry van hier het onlangs ’n gesin met drie jong seuntjies op straat teëgekom en huis toe geneem om vir hulle kos te gee.

Henry kon dit nie oor sy hart kry om die gesin weer aan die strate bloot te stel nie. Tans bly die gesin saam met Henry en sy vrou in hul huis in Southridge, maar dinge gaan maar moeilik.

Die gesin bestaan uit ’n ma (30), ’n pa, (30) en drie seuns van die ouderdomme sewe, tien en elf. Die gesin is al die pad van Klerksdorp en het geryloop na Kimberley op soek na ’n familielid. Hulle het op pad hul enigste foon verloor en het onlangs eers die familielid in die hande gekry. Dié probeer ook die gesin uithelp. Hulle was vir ’n aantal dae op die pad en het vir twee aande in Kimberley se strate geslaap tot Henry tot hul redding gekom het.

Die gesin het alles verloor en moet van vooraf begin. Die pa doen tans werkies vir Henry vir ’n paar rand en die mamma soek werk en is bereid om enigiets te doen sodra haar kinders weer terug in die skool is. Die gesin beoog om ’n woonstel in Kimberley te huur en hier ’n bestaan te begin.

Die 10-jarige seuntjie is liggaamlik gestremd

Die 10-jarige seuntjie is baie vroeg gebore en is liggaamlik gestremd. Hy kan nie loop nie, aangesien sy spiere in spasmas trek. Die kind maak tans gebruik van ’n skaatsplank om rond te beweeg en sy ouer boetie dra hom met liefde op sy rug rond.

Die oudste seuntjie spog met ’n uitstekende rapport en het ’n liefde vir sport. Hy kan nie wag om na ’n skool toe te gaan waar hy sy droom kan uitleef asook verder akademies presteer nie.

Die jongste seuntjie wil baie graag graad een toe gaan en sien uit daarna om in sy oudste boetie se akademiese spore te volg en om maatjies te kry.

Donasies word verwelkom

Donasies van enige soort word deur die gesin verwelkom, insluitend klere, kos en meubels.

Die gesin sal baie graag in die toekoms op hul eie voete wil staan. Enige hulp aangebied sal waardeer word.

Vir meer inligting oor donasies vir die gesin kan jy by die groep in die opmerkings aansluit of vir Magda skakel: 071 346 2395

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: