Die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 sê dit is onnodig om ’n kis in plastiek toe te draai, aangesien niemand nog Covid-19 vanaf ’n dooie mens gekry het nie.
Volgens The South African is die aankondiging gemaak nadat mense uitgewys het die kis van Jackson Mthembu was nie in plastiek toegedraai nie.
Volgens die advieskomitee het die Wêreldgesondheidorganisasie (WHO) gesê: “Tot op hede is daar nog geen berig oor die oordrag van SARS CoV 2 van ‘n lyk na ‘n mens nie. Daar is baie min risiko vir besmetting van ‘n lyk na diegene wat die lyk versigtig hanteer. Daar is ’n moontlikheid vir die virus om te ontsnap as daar kort na die dood op die lyk se bors gedruk word, maar daar is nog geen bewyse daarvan nie.”
Enigiemand wat met ’n lyk werk, word versoek om aan die voorsorgmaatreëls betreffende infeksievoorkoming en -beheer te voldoen. Beskermende toerusting moet gedra word. Dit moet gedoen word in ’n omgewing wat skoon is met goeie ventilasie.
Die komitee sê die verspreiding van die virus by begrafnisse vind plaas tussen die lewendes wat nie die Covid-19-protokolle handhaaf nie.



