Die Demokratiese Alliansie (DA) sal nege maande van onderbroke watertekorte in Warrenton aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) rapporteer. Dit kom te midde van die Magareng-munisipaliteit se onwilligheid om korttermynoplossings te implementeer om te help met die onmiddellike voorsiening van water as basiese mensereg.
Hierdie is volgens Grantham Steenkamp, LPW – DA Noord-Kaapse woordvoerder van samewerkende regering.
Grantham Steenkamp het gesê: ‘Watertekorte in plekke soos Ikhutseng, die stasiegebied, Warrenvale en, in ‘n mindere mate, die dorpsgebied het die norm geword en het aanleiding gegee tot protesaksie op die N12, soos wat gister gebeur het.’
‘Die uiteinde is dat die waterbehandelingsaanleg nie meer in die vraag na huishoudelike water kan voorsien nie. Dit is die gevolg van die toename in die aantal huishoudings oor ‘n lang tydperk, swak onderhoud oor die afgelope jare, ‘n gebrek aan fondse vir onderhoud, diefstal van elektriese kabels, vandalisme en die onwilligheid van die nasionale departement van water en sanitasie om die kapasiteit van die aanleg uit te brei, soos meer as 20 jaar gelede aanbeveel is.’
‘Terwyl ‘n 18-maande-lange uitbreidingsprojek van die waterbehandelingsaanleg uiteindelik aan die gang is, wat oplaas die voorsiening van water in staat behoort te stel om in die vraag na water te voorsien, het die munisipaliteit nie daarin geslaag om volhoubare tussentydse maatreëls in die betrokke gemeenskappe toe te pas nie. Dit sluit in voldoende en gereelde hervul van Jojo-tenks en die herstel van ‘n massiewe gebreekte waterpyp. Kwessies by die watersuiweringsaanleg het die agterstand van watervoorsiening verder vererger.’
‘In November verlede jaar het ek aan die premier, dr. Zamani Saul, geskryf en hom gevra om met LUR van samewerkende regering, Bentley Vass, te skakel om te verseker dat daar gedurende die feestyd hulp verleen word om die jaarlikse toestroming van besoekers die hoof te bied. Ek het uit desperaatheid aan die premier geskryf omdat ek nie ‘n reaksie van LUR Vass kry nie. Ek het egter ook nooit ‘n antwoord van die premier gekry nie. Daarom sal ek die saak nou na die SAMRK verwys.’
‘Die DA hoop dat duidelike aanbevelings van die SAMRK ten opsigte van watervoorsiening aan die inwoners van Warrenton, die regering sal keer om die Magareng-waterkrisis verder te ignoreer. ‘
‘Alle inwoners verdien toegang tot water om aan hul onmiddellike behoeftes te voorsien, veral te midde van ‘n dodelike pandemie.’
*persverklaring



