Absa Wildeklawer Sport-toernooi weer vanjaar uitgestel

Deel hierdie storie / Share this story

Die Absa Wildeklawer Sport-toernooi word hierdie jaar na Augustus uitgestel.

Jannie van der Westhuizen, voorsitter exco, Absa Wildeklawer Sport, sê dié sporttoernooi wat gewoonlik in April in Kimberley gehou word, word uitgestel tot Augustus.

Van der Westhuizen sê die vroegtydige besluit sal ook skole in staat stel om met diensverskaffers, aan wie reeds bepaalde deposito’s betaal is, te onderhandel.

“Hierdie is ’n harde en onwillige besluit, maar is die regte besluit en in die beste belang van almal. Ons dank aan Diamantveld vir die voorbereidende werk wat hulle tot op hede reeds gedoen het.”

Voorts sê van der Westhuizen beplan die Exco om die Absa Wildeklawer Sport-toernooi die naweek van 7 Augustus te hou.

“Ons sal steeds ’n besondere sportgeleentheid aanbied. Ons is bewus daarvan dat dié datum nie al die skole sal pas nie, maar dit is ongelukkig die enigste realistiese opsie.

“As gevolg van die verkorte sportskalender van 2021, wil ons steeds ’n opwindende sportgeleentheid vir leerlinge aanbied. Dit is ook so dat dit onmoontlik is om die omstandighede in die land teen Augustus te voorspel.”

Die Exco sal die publiek ingelig hou.

Die 2022 Absa Wildeklawer Sport-toernooi sal gedurende die laaste naweek van April volgende jaar weer in Kimberley plaasvind. Voorlopig sal die wedstryde op Sat 30 April en Maandag 2 Mei (openbare vakansiedag) wees.