“Ons sal ons lewe op die spel sit vir jou”

Foto: Sr. Nora

Sr. Nora, ’n verpleegster by ’n hospitaal in die Oos-Kaap, gesels met FiND iT oor wat sy elke dag beleef tydens die stryd teen Covid-19.

Sr. Nora vertel sy het in Desember omtrent elke tweede dag ’n pasiënt aan Covid-19 verloor. “Ek was nog nooit so seker daarvan dat iets werklik is nie.” Geen familie word by ’n pasiënt toegelaat nie. Sy deel haar persoonlike selfoonnommer met families sodat hulle die pasiënt oor video call kan bel. “Dit is al berusting wat ek vir pasiënte en families kan bied.”

 “Ek praat slegs uit my ervaring met my pasiënte.” Sy sê met die eerste Covid-19-golf het pasiënte op dag sewe erge simptome gehad. Die wat baie siek was, het vir ’n week geveg tot die einde toe. Met die tweede golf is dit of die simptome onderdruk word. Pasiënte word nie siek genoeg om hospitaal toe te gaan nie. “Hulle voel net snaaks. Om en by dag tien gaan hulle gewoonlik in en is kortasem. Na ’n dag of twee het hul so agteruitgegaan in die hospitaal en die volgende oomblik moet jy die familie bel”.

“Ons raak geheg aan ons pasiënte”

Sr. Nora sê dit is moeilik om pasiënte te verloor. “Ons raak geheg aan ons pasiënte. Ek vind vertroosting daarin dat ek mense in die stryd help. Daar is dae wat ek wens ek kon meer doen, wens ek kon my asem vir die pasiënt voor my gee.”

Sr. Nora se boodskap aan Suid-Afrikaners is:

“Moenie jou steur aan die sameswerings nie. Die feit is jy of iemand na aan jou gaan binnekort, as jy nie klaar het nie, Covid-19 kry en selfs die dood ontmoet. Almal is in gevaar, moenie die rede wees dat jou familie aan die virus blootgestel is nie.”

“Wees slim, wees veilig, maar weet ook as jy dit kry en jy kort hulp, daar is iemand soos ek wat als in hulle vermoë sal doen om jou te help so ver as wat ons kan. Ons sal ons lewe op die spel sit vir jou.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *