Regering se alleenreg met entstowwe problematies

Die VF Plus waarsku dat die regering se alleenreg met die aankope en verspreiding van entstowwe teen Covid-19 problematies kan wees in ag genome die grootskaalse korrupsie wat verlede jaar plaasgevind het rondom die aankoop van persoonlike beskermde toerusting waar ANC-politici en amptenare betrokke was.

Hierdie is volgens Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Gesondheid.

Van Staden het gesê: “Die publiek het lank reeds alle vertroue in die regering verloor en dit is moeilik om die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, se onderneming te glo dat die regering korrupsie en bedrog met die aankoop van die entstowwe gaan uitskakel deur die proses te sentraliseer.”

“Die VF Plus staan skepties teenoor die minister se uitsprake hieroor. Dit bied geen waarborg dat korrupsie nie sal plaasvind nie.”

“Die privaatsektor moet toegelaat word om die entstowwe aan te koop, te berg en te versprei met die nodige regulasies in plek. Die regering kan nie die alleen-aankoper en verspreider wees nie. Ten einde ‘n sukses te maak van die uitrol van Covid-19-entstowwe sal daar ‘n openbare-private vennootskap gesluit moet word.”

“Die staatslaboratoriums se geriewe is ook nie geskik om entstowwe onder -70 grade C te berg nie en dit alleen skep ‘n groot probleem.”

“Daar is reeds bewys dat geen waarde geheg kan word aan die minister se onderneming dat daar teen  7 Januarie elke dag van die week 316 000 inentings gedoen sou word om teen die einde van die jaar 40 miljoen mense in te ent nie.”

“Die staat het doodeenvoudig nie die vermoë nie, al gaan 6 300 mense heeltyds aangestel word om daarmee te help.”

“Die regering wil klaarblyklik die pandemie gebruik om te probeer bewys dat hy ‘n sukses kan maak van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Hy kry egter die teenoorgestelde reg en sy optrede wys opnuut dat die NGV in ‘n fiasko sal eindig.”

*Persverklaring

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: