Voorgestelde uitstel van heropening van skole: Onderwys moet dalk opnuut bedink word

*Persverklaring

Die nuus dat skole selfs later as verwag gaan open, lok uiteenlopende reaksie. Sommige ouers en onderwysers is verlig daaroor omdat hulle vir hul en hul kinders se lewe vrees.

Ander vrees die gevolge as kinders alleen tuis bly terwyl ouers werk en niemand na hulle kan omsien nie. Akademiese ontwrigting wat van jaar tot jaar oorgedra word, skep ook geregverdigde frustrasie. Die geskeduleerde openingsdatum van 27 Januarie sou reeds probleme geskep het; 15 Februarie mag dit in ‘n tweede krisisjaar laat ontaard.

Dit is belangrik om daarop te let dat tydens die mediakonferensie, die departement van basiese onderwys genoem het dat gepoog sal word om onafhanklike skole te oortuig om die nuwe protokolle te volg, maar dat hulle nie verplig kan word nie.

Intussen word die finale regulasies soos in die staatskoerant gepubliseer word, afgewag.

Die voortdurende grendelstaat kan veranderings in onderwys, wat lankal moes intree, afdwing. Iemand wat tagtig jaar gelede aan die slaap geraak het en vandag wakker word, sal op net een plek sinvol kan funksioneer: In die skool.

Die huidige skoolmodel is ‘n resultaat van die nywerheidsrewolusie, bykans tweehonderd jaar gelede. Die hoogste voorkeur was om jeugmisdaad en kinderverwaarlosing teen te werk. Boonop kon hulle met die vaardighede vir die industriële ekonomie toegerus word.

Dat die ekonomie en samelewing na die Tweede Wêreldoorlog grondliggend verander het, word slegs gedeeltelik in onderwys weerspieël.

Onderwyskundiges verwys na onderwys as ‘n omgewing wat hardnekkig teen verandering weerstand bied. Dit word soms aan die “nostalgiese kurrikulum” toegeskryf; die houding wat sê: “Dit was die soort onderwys wat ons gekry het en ons het goed uitgedraai. Hoekom moet dit verander?”

Die eienaardige is dat daar min ander lewensterreine is waar so ‘n gesindheid as wysheid beskou sal word.

Twee kenmerke van onderwys soos ons dit ken, is dat van alle kinders verwag word om teen dieselfde pas te werk; en dat ‘n geweldige sametrekking van kinders in een skool as beste praktyk beskou word.

Laasgenoemde het waarskynlik baie te doen met die prestige wat sport in skole geniet. Hoe groter die skool, hoe groter die poel waaruit sportspanne gekies kan word. Elders in die ekonomie word differensiëring egter juis nagestreef en kleiner groepe mense word as meer bestuurbaar gereken.

Die groot sametrekking van kinders is juis problematies in die aangesig van ‘n aansteeklike siekte. Daarom kon die departement van basiese onderwys onafhanklike skole, sowel as klein (hoofsaaklik plattelandse) skole, verlede jaar toelaat om te open, terwyl ander skole gesluit bly.

Deeglik bestuurde tuisskole is ook as bondgenoot in die stryd teen Covid-19 ontvang.

‘n Nuwe model van skoling, waar onderwysers steeds die rol van mentor speel, maar waar selfstandige werk en gedifferensieerde tempo deur inligtingstegnologie gefasiliteer word, is lank reeds bekend. Dit het tot dusver egter op die buiterand van die onderwystoneel gebly.

Kleiner skole, wat hierdie soort onderwys met die hulp van verskeie diensverskaffers aanbied, kan help om die ontwrigting van die grendelstaat te oorkom. Anekdotiese getuienis is dat al meer ouers daarvoor kies. Dit mag daartoe lei dat sport toenemend deur outonome instansies aangebied word. 

Intussen moet besluite vir bestaande skole in die huidige bedeling geneem word. Die VF Plus se standpunt is dat skole wat veilig kan open, toegelaat moet word om dit te doen.

Slegs waar daar bewese onvermoë is om verspreiding van die virus te voorkom, moet die teendeel geld. Dit sal die las om verlore tyd later in te haal, verlig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *