Duif vlieg oor Stille Oseaan, word nou doodgemaak

Deel hierdie storie / Share this story

AUSTRALIË. –  ’n Duif se lewe is in gevaar nadat hy oor die Stille Oseaan tot in Australië gevlieg het. Niemand is seker hoe die duif die lang vlug van omtrent 13 000 km voltooi het nie. ’n Vermoede is dat hy die grootste deel van die reis op ’n vragskip meegemaak het.

Volgens BBC News het Kevin Celli-Bird, inwoner van Melbourne Australië, die duif in Desember in sy agterplaas gewaar. “Hy het uitgeteer gelyk en ek het vir hom kos uitgesit.” Mnr. Celli-Bird het op die internet oor die voël nagelees en uitgevind hy is geregistreer aan ’n man in die Verenigde State van Amerika. Die duif het twee maande vroeër vermis geraak tydens ’n wedvlug in Oregon.

Kort nadat die duif, genaamd Joe, hoofopskrifte in Australië gehaal het, het owerhede vir mnr. Celli-Bird gekontak. Die owerhede het Joe as ’n bioveiligheidrisiko vir Australië se voëlbevolking en pluimveebedryf beskou.

Joe sal gevang word en uitgesit word. ’n Woordvoerder van die departement van landbou, water en omgewing het gesê: “Geen mak voël, wat nie aan die gesondheidstatus en vereistes van invoer in Australië voldoen nie mag hier woon nie.” Volgens hom is die enigste moontlike uitkoms om die duif van kant te maak.