Lesbiese paartjie neem regstappe teen spermskenker

Deel hierdie storie / Share this story

JOHANNESBURG. – Anita Virga en Nonkululeko Ziqubu, ’n lesbiese paartjie, neem regstappe om ’n kunsmatige-inseminasie-spermskenker te keer om ouerlike regte vir hul kind te eis.

Die hoofdoel van die hofsaak is om te keer dat die spermskenker erkenning as vader soek of op enige manier in die kind se lewe betrokke wil wees. Die aansoek betwis die grondwetlikheid van ’n gedeelte van die Kinderwet, wat in 2005 gewysig is, wat ruimte skep vir die spermskenker om op ouerlike regte aanspraak te maak.

Kunsmatige bevrugting

Die hofaansoek sê ook Artikel 40 van die Kinderwet moet ongrondwetlik verklaar word op grond daarvan dat dit slegs gades as ouers vir kinders identifiseer wat deur kunsmatige bevrugting verwek is en nie permanente lewensmaats nie.

Die spermskenker is van plan om die hofaansoek teë te staan. Die Johannesburg-hooggeregshof sal die saak in die volgende paar maande verhoor.