Vandat die nuwe virussiekte, Covid-19, uitgebreek het, het mediese personeel en navorsers regoor die wêreld aan ’n entstof begin werk. Mens sou dink die mense sou bly wees om te hoor daar is ’n entstof teen die gevreesde virus beskikbaar. Suid-Afrikaners was nie skaam om hulle opinie oor die entstof te lig nie.
Hier is die top drie bewerings wat mense oor die inenting glo:
Verander menslike DNA
“Om RNA in ’n persoon te spuit, doen niks aan die DNA van ‘n menslike sel nie,” sê professor Jeffrey Almond van die Universiteit van Oxford. Dit werk deur die liggaam instruksies te gee om ‘n proteïen te produseer wat op die oppervlak van die koronavirus voorkom. Die immuunstelsel leer dan om teenliggaampies teen die proteïen te herken en te produseer.
Bevat mikroskyfies
Die mense beweer die pandemie is ’n dekmantel om deur middel van die inenting mikro-skyfies by mense in te plant. Dié wat in hierdie bewering glo, sê die medestigter van Microsoft, Bill Gates, sit hier agter. Die Bill and Melinda Gates-stigting het aan die BBC gesê die bewering is vals.
Bevat weefsel van ’n fetus
Mense het die bewering begin glo nadat ’n video op een van die grootste Facebook-bladsye teen inenting geplaas is. “Daar word geen fetale selle in enige entstofproduk gebruik nie,” sê dokter Michael Head van die Universiteit van Southampton. Volgens die BBC het verwarring ontstaan omdat ‘n stap in die proses om ‘n entstof te ontwikkel gebruik maak van selle wat in ‘n laboratorium gekweek word. Die afstammelinge is van embrionale selle wat andersins vernietig sou word. Die tegniek is in die 1960’s ontwikkel, en geen fetusse is vir die doeleindes van hierdie navorsing geaborteer nie.



