‘Covid-19 kon nie my droomtroue van my af wegvat nie’

Deel hierdie storie / Share this story

Elri Scholtz (23) vertel hoe sy trou beloof het aan Herman Scholtz (30) tydens die Covid-19-pandemie. Sy vertel haar troue was baie intiem en klein. “Dit was die beste dag van ons lewens en ons sou absoluut niks wou verander as ons dit weer kon oorhê nie.”

Elri en Herman het in 2014 by ’n 4×4-byeenkoms ontmoet. “Ek het vir hom gesê hy is iets anders, maar ek het nie toe al geweet ek gaan met hom trou nie.” In 2019 het die paartjie mekaar weer gesien. “Hy het my aan my arm gevryf en diep in my oë gekyk, ek het dadelik na my ma gery en vir haar gesê ek het my trouman gekry.”

Elri vertel die troue is gehou op Sweetfontein in die Karoo. “Ons tema was Bohemian rustic.”  

“Ons moes elope, so het toe getrou met 20 gaste”. Daar sou oorspronklik 50 mense genooi gewees het na die troue, maar die Covid-19-regulasies het hulle forseer om net die mense naaste aan hulle te nooi. “Elke liewe oomblik was vir ons baie spesiaal, omdat ons die mense wat daar was met die hand uitgekies het! Ons was verlief op elke liewe oomblik van ons troue!”

Elri vertel die troue het presies gebeur soos hulle dit beplan het, net met minder gaste. “Ons het net nie toegelaat dat Covid-19 ons droomdag, waarvan ek as klein dogtertjie al gedroom het, en my droomtrourok van ons af wegvat nie.”

“My boodskap aan enige paartjie wat wil trou tydens Covid-19 is: Jy moenie omgee oor ‘n Huisgenoot-troue nie. As julle regtig lief is vir mekaar en wil trou, sal jy met die minste tevrede wees! Moenie trou om af te wys nie. Wees in jou hart gelukkig en hou jou troue so intiem en klein as moontlik. Dis ongelooflik spesiaal. Trek daai droomrok van jou aan en kry die fotograaf van jou drome, want dit is al wat jy oor het as al die opwinding verby is!

Die paartjie se oorsese wittebrood na Bali is uitgestel tot ’n latere stadium. “Herman neem my na die mooiste plekke in Suid Afrika, al langs die kus af! Mens besef nie watse mooi plekke ons land het nie.”