January 20, 2021

Na slapelose nagte en angsaanvalle in ICU, herstel ek by huis van Covid-19

WES-KAAP. – “Ek het ’n week met Covid-19 in die ICU gelê. Dit is ’n absolute wonderwerk dat ek hier sit en my storie vir die wêreld vertel. Hierdie storie handel oor die emosionele trauma wat mens deurgaan wanneer jy hierdie virus opdoen,” sê Chantelle von Molendorff.

“Ek het in ’n kwessie van ’n week ‘n menigte mense sien sterf, jonk en oud. Daar was ’n vrou wat haarself in nat handdoeke toegedraai het, terwyl die lugversorger ten volle blaas. Ek kon sien sy voel hoe die lewe haar verlaat. ‘n Halfuur later daag mans met ’n lang silwer trollie op, draai haar in plastiek toe en verwyder haar lewelose liggaam. Geen trane, geen gebed, hul gaan net normaal aan soos enige ander dag.

Sy skree van pyn

“Die tannie het nog die vorige aand gelag, omdat sy haar mense moes leer video call. Twee beddens van haar af lê ’n jong vrou. Daardie jong vrou se ma kontak haar en vra haar of sy haar sap gekry het en stuur baie liefde, sy wys net ’n thumbs up na die selfoonskerm. Drie ure later en dieselfde vrou begin skree en hyg in haar slaap. Ek trek my komberse oor my kop, huil en bid tegelyk. Sy skree van pyn, niemand kan iets doen nie. Sy het klaar so baie morfien vir al die pyn gekry. Die volgende oggend was daar slegs ’n alleenstaande sappie. Twee vrouens is net weg. My gedagtes hardloop na haar arme ma wat nooit haar hand kon neem nie. Haar ma wat vroeër nog gesels het met haar dogter en nou is daar net stilte.

Emosioneel tot teen die grond

“Gisteroggend vroeg begin my reuk terugkom. My neus was vir twee dae as gevolg van die suurstofpype dood en lam. Ek ruik ’n walglike reuk. Die ou tannie, reg langs my, is besig om te ontlas en dit stop nie. Sy snak na haar asem en begin ruk. My eie binnegoed draai, ek huil en bid, maar dis tevergeefs. ’n Paar minute later kom die silwer trollie weer… Hierdie was drie van die honderde gebeurtenisse wat ek aanskou, gehoor en van gehoor het in een week.

“Emosioneel was ek tot teen die grond gedruk. Die mediese personeel aanskou hierdie gebeurtenisse elke dag. Hoe moet hulle voel?

Engele gestuur van Bo

“Ek was gediagnoseer met Covid-19, longontsteking en asemnood. Die personeel het my vir ’n week deur elke gesondheidskwaal, elke angsaanval, elke traan, al my tienduisende vrae, elke slapelose nag gedra. Die verpleegpersoneel is engele gestuur van Bo en mag God jul en jul families allemintig seën en vir altyd beskerm. Elke oggend as julle opstaan, plaas julle jul eie lewens op die spel omdat julle omgee vir ’n ander siel. Hierdie siel se lewe is gered as gevolg van julle bekwame hande.

“Hiermee smeek ek die publiek om asseblief verantwoordelik te wees. Glo my as ek sê, jy wil nie die oorsaak wees dat jy ’n familielid of geliefdes verloor nie. Doen jou medemens ’n guns, want môre of oormôre is dit jy of jou geliefde wat alleen en sonder lewe uitgedra word.

Die harde waarheid

“Laastens wil ek God dank vir Sy hand oor my, Anton, familie en vriende en vir Sy ewigdurende liefde en genade.

“Toe ek vier dae gelede ontslaan word, het my dokters my genader en gevra dat ek asseblief my storie moet deel en mense bewus maak van die HARDE waarheid van Covid-19. Ek is een van die bevoorregtes wat oorleef het om my storie met elkeen van julle te kan deel.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *