January 24, 2021

Almal kyk vir jou geel toonnaels!

Foto: WebMD

Dit begin met ’n klein geel merkie op jou nael en in ’n japtrap is die nael heeltemal geel, dik en krummelrig. Alhoewel jy naelswam in jou vingernaels ook kan kry, is swamorganismes baie meer algemeen in toonnaels.

Volgens die Mayo-kliniek  kan baie mense naelswamme hê en dit sal hul nie pla nie. Sommige mense kry weer naelswamme wat ’n reuk het en pynlik is. Naelswamme word veroorsaak deur ’n verskeidenheid swamorganismes. Die algemeenste is ’n swam genaamd dermatofiet.

Naelswamme kan op enige ouderdom voorkom, maar is meer algemeen onder ouer mense. Met tyd kraak veral die toonnael. Swamme gaan deur die krake onder die toonnael in. Mense wat baie kaalvoet loop, het ’n groter risiko om dit iewers op te tel. Ander faktore soos lae bloedsirkulasie en ’n swak immuunstelsel kan ook ’n rol speel.  Dit is aansteeklik van een toon na die ander. Mense met diabetes wat ’n naelswam kry, moet dadelik na ’n dokter toe gaan. Dit kan ’n gevaarlike nadraai vir hulle inhou.

Hoe om naelswamme te voorkom:

  • Was jou hande en voete meer gereeld, veral as jy in kontak met iemand anders se skoene of voete was.
  • Ontsmet jou naelknippers en ander toerusting na elke gebruik.
  • Dra kouse wat sweet absorbeer of trek ander kouse deur die loop van die dag aan.
  • Dra skoene wat jou voete toelaat om asem te haal.
  • Dra plakkies in openbare storte of swembaddens.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *