January 24, 2021

50 Jaar se huwelik begin met Elvis-kuif

Foto: Ina Botes

Ina en Andries Botes vier 50 jaar van getroude lewe.

Ina vertel sy het Andries in 1969 ontmoet toe sy 17 jaar oud was. Sy het voor die stadsaal blikkie geskud. “Hy het verbygestap en ek het die blikkie vir hom geskud en gesê nou toe gooi geld in.” Sy antwoord was vir elke tien sent moet hy ’n soen kry.” Nie lank daarna nie het hulle weer ’n ontmoeting gehad. Ina het verby Andries se huis gestap en hy wou weet waarnatoe sy gaan. Sy het gesê swembad toe. Die paartjie se eerste romantiese afspraak was by Kimberley se Groot Gat.

In 50 jaar se getroude lewe het Ina en Andries twee kinders saam grootgemaak en is vandag die trotse ouma en oupa van vier klein kinders en twee agterkleinkinders. Ina vertel die eerste ding van Andries wat haar na hom toe aangetrek het, was sy Elvis-kuif. “Sy kuif was so ’n blouswart kleur en dit was vir my so mooi”. Andries vertel weer Ina se glimlag het sy aandag getrek.

Vandag waardeer Ina Andries se hardwerkende eienskappe asook sy sagte hart. Volgens Andries het Ina ook ’n baie mooi hart. “Sy help altyd almal waar sy kan.”

Ina en Andries se raad aan jong paartjies is: “Wees lief vir mekaar al gaan dit rof en bid vir mekaar, vat mekaar se hande en gee drukkies. Dit maak alles die moeite werd.”

Foto: Ina Botes

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *