Watter kossoorte is gevaarlik vir jou hondekind?

Deel hierdie storie / Share this story

Ons honde geniet dit as ons ’n happie van ons kos met hulle deel, maar ons moet in gedagte hou dat baie van ons kosse skadelik vir ons honde kan wees. Volgens Hillspets is dit belangrik om te weet watter kossoorte jou hond kan benadeel.

Sjokolade en kafeïen

Die bekendste gevaarlike kossoorte vir jou hond is sjokolade en kafeïen. Dit is giftig vir honde. Terwyl druiwe en rosyne nie vir alle honde ’n gevaar is nie, kan dit wel veroorsaak dat sommige honde aan nierversaking lei. Simptome sluit in braking, diarree, lusteloosheid, spierbewing, onreëlmatige hartklop, hoë liggaamstemperatuur, epileptiese aanvalle en dood.

Rou brooddeeg

Rou brooddeeg bevat etanol wat alkoholvergiftiging in honde kan veroorsaak. Simptome sluit braking, disoriëntasie, hoë liggaamstemperatuur, rusteloosheid, oormatige hyg, spierbewing en epileptiese aanvalle in. Dit kan veroorsaak dat die hond se orgaanstelsel ophou werk. Verder kan die gis in rou brooddeeg ook swelling in die maag veroorsaak, wat tot weefselskade, asook asemhalingsprobleme kan lei.

Xylitol

Xylitol is ’n kunsmatige versoeter wat in verskeie produkte soos koeldrank, lekkers en tandepasta voorkom. Inname kan veroorsaak dat ’n hond se suikervlakke ernstig val. Simptome sluit in braking, epileptiese aanvalle en verlies van koördinasie, wat enkele minute tot ure na inname kan voorkom. Slegs ’n klein hoeveelheid Xylitol is nodig om groot skade aan jou hond aan te rig.

Uie en knoffel

Uie en knoffel is lewensgevaarlik vir honde. Dit veroorsaak gastro-enterites, bloedarmoede en ernstige skade aan die rooibloedselle. Die simptome kom eers dae na inname na vore en sluit in lusteloosheid, swakheid en oranje tot donkerrooi gekleurde urien in.

Ander gevaarlike kosse is suiwelprodukte, makadamianeute en bene. Dis baie veiliger om eerder nie menskos aan jou hond te voer nie. As jou hond enige van die bogenoemde kosse inneem, skakel dadelik jou veearts.