Verkrag deur my oupa – leser vertel

Deel hierdie storie / Share this story

Ek was 12 jaar oud toe ek deur my oupa verkrag is. Dit was Kersfees 2000 en ons het my ouma en oupa baie lanklaas gesien. Ek, my ouers en my drie susters het vir die week daar gaan kuier.

Die eerste paar dae was dit bitter lekker. Ons het gespeel en geëet en net oor die algemeen alles geniet. Ek het alleen in ’n kamer geslaap omdat ek die oudste was. Die aand van die 23ste Desember het my oupa by my kamer ingekom. Hy het my gesoen en sy hand onder my nagrok ingedruk. Ek was vreesbevange en het nie geweet wat om te doen nie. Ek het net stokstyf daar gelê. Hy het my gewaarsku dat ek vir niemand mag vertel nie, anders sal hy tronk toe gaan.

Die volgende dag het hy my genooi om saam met hom in die veld te gaan hase jag. Ek wou nie saamgaan nie, maar my ouers het hulle vir my vervies omdat ons my oupa-hulle so lanklaas gesien het en my gedwing om saam te gaan.

Toe ons alleen in die veld was, het hy my verkrag. Daarna het ons teruggegaan huis toe en hy het vir almal vertel ons kon nie hase kry nie.

Ek het nooit vir enigiemand daarvan vertel nie, maar my onskuld is daardie dag gesteel. Ek het teen my ouers begin draai en net eenvoudig geweier om die volgende jaar weer saam te gaan.